Wat net ma's verstaan...




 Hierdie storie gaan nie oor my nie. Dit is ook nie diep of filosofies – soos dat een vrot appel die res ook sal vrot maak nie. Dit gaan oor ma’s met baie kinders (Of soms kan selfs een kind mos soos baie voel!).

Lank gelede was ek selfsugtig,perfeksionisties, ambisieus en selfbehep (Soos baie van ons is voordat ons trou en kinders kry). Ek kon ‘n hele Saterdagoggend in ‘n koffiewinkel sit met ‘n koerant en koffie. Ek kon my verkyk aan die mense. Ek het soms in my mou gelag vir mammas met hul buite-beheer-krose. My kindertjies sou immers nooit só wees nie. Ek sou die wereld verander met my mooi stories. My voorkoms was belangrik en ek was obsessief oor wat ek eet en nie eet nie.

Alles is nou anders. Ek eet enigiets en ALS – van Adriaan se oorskiet van die vloer af, tot Macdonalds roomys as ons die kinders wil bederf. Ek voel meestal ek het die suiker nodiger as hulle. Ek vermy op hierdie stadium koffiewinkels. Dis nie ‘n goeie idee met ‘n baie woelige twee-jarige nie. En die plooi tussen my oë voel asof dit net dieper raak!



Vandag laat ek Adriaan verf. Op die foto lyk dit so vredevol en “cute.” Op daardie stadium was dit nog...toe glip ek blitsig weg vir ‘n piepie. Blitsig. Maar Adriaan is blitsiger. Een minuut later het hy sy eie hare begin verf. En die vloer. Ek betrap hom oppad na die muur, doelgerig, soos net ‘n 2-jarige kan wees. Toe moet ek hom eers badkamer toe neem om alle rooi af te vee. En daarna moes ek die verf van die geel tafeltjie en die vloer gaan afskrop en terwyl ek daarmee besig is sien Adriaan weer ‘n nuwe geleentheid. Hy bestorm ons koekie-en-lekkergoed bak wat ek altyd bewaak wanneer ek in die kombuis besig is. Hy ruk ‘n nuwe pakkie koekies oop en toe ek vyf minute later in die kombuis kom is hy sjokoladekoekie in die hand besig om te grawe vir lekkers. Hy lyk altyd so trots op homself as hy my so kon ontglip.

My Wilma-vriendin vra gisteraand waarom ek nie meer skryf nie. Ek wil antwoord: “Ek skryf daagliks tientalle stories in my kop. Hulle kom net nooit op papier nie.” Dinsdagmiddag lê ek by Adriaan sodat hy aan die slaap kan raak. Ons was mos so kwaai met die ander tweetjies. Hulle kon elke slapie so soet alleen gaan slaap. Adriaan is ‘n ander storie. Hy moet so in die waai van jou arm lê en diep in jou oë kyk. Dan moet jy vriendelik bevestig dat jy hom baie liefhet en dat hy nou maar regtig kan slaap. Dan krap die kind in jou oor (en ruk meestal ‘n oorbel uit), dan in jou neus en dan probeer hy sy vingertjies in jou mond in. Terwyl hy weer besig is met sy ritueel ruik ek sy vingertjies was weer in die hondepille. Vroeër moes ek hom ook al twee maal skoon aantrek omdat hy so met die slakke speel – en dan groen van slak slymerigheid van buite af inkom!

Adriaan is by verre ons besigste kind. En ons het gedink die ander twee was besig! Dit voel soms na ‘n dag asof ek stokflou is, maar ek het net ‘n bak spaghetti bolognaise om van die dag te wys.

Ek wou nog oor die doekesak skryf. Terwyl Adriaan sy middagslapie slaap besluit ek om gou die doekesak te sorteer. En die HANDVOL vrot vrugte is wat ek (tot my skok!!!) in die doekesak ontdek. Ek kon nie glo ek kon so iets oorkom nie!

Vir perfeksionistiese, selfsugtige boksiemense is hierdie nie ‘n maklike seisoen nie. Niks het nog ooit in my hele lewe so aan my karakter gebou nie. Gister vra manlief wat my plan met die klomp Checkers-plantjies in ons kombuisvensterbank is. Dit maak die kinders gelukkig, antwoord ek. My kombuis is vol sand na elke liewe plantjie wat geplant word, en meeste van die plantjies se oulike name raak verlore in die proses. Geen naam is meer op sy regte plek nie. Ons sit dus met ‘n dosyn vrolike plantjies waarvan ons nie ‘n benul het wat dit is nie. Maar dit maak glad nie saak nie, want dit was pret om dit te plant.



Ek klink soos ‘n ondankbare, klaerige mamma. Ek is glad nie. Ma-wees is sekerlik die wonderlikste, ergste ding wat met jou kan gebeur. Kinders draai jou lewe letterlik op sy kop. Maar mens verruil dit vir niks in die wêreld nie. As ek oor kan kies doen ek dit weer drie keer oor van voor af.

Maar beslis nie 'n vierde keer nie!


Being a parent is like folding a fitted sheet. No one really knows how.

 

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep