Ons DAPPER kleuters

 



Vandag skop ek my jaar af by die kleuterskool waar ek werk. Gemasker. Onseker oor hoe dodelik en gevaarlik hierdie nuwe “strain” nou regtig is.

Klein kinderlyfies skop hulle skooljaar in hierdie covid-era af – vir ‘n handjievol is dit hul heel eerste keer by ‘n skool. Hulle word ontvang deur vriendelike tannies wat nie kan wag om te begin leer en speel saam met hulle nie. Maar die tannies se glimlagte is agter maskers. Elke kindjie se koors moet eers gemeet word en hulle handjies gewas voordat hulle kan hardloop na die klimraam en sandput vir speel. Die “oud-skoliere” kom staan met ‘n glimlag sodat hul koors eers gemeet kan word. Hulle was hulle handjies deeglik. Die nuwe outjies is meer versigtig en onseker, maar NIEMAND weier om te staan vir die koorsmeting of handjies was nie.

Iewers deur die oggend tref dit my ... ons maak ‘n dapper generasie groot. Baie dapper.

Hulle kla en mor en prut en neul nie oor die “nuwe normaal” nie. Die klomp keer se hande was raak pret. Die koorsmeter raak ‘n snaakse metertjie wat kan meet hoe lekker mens gaan speel die dag. Die tannies se maskers en skerms is iets wat hulle klaarblyklik nie eens meer raaksien nie.

Ons is bang dat ons kinders nie oraait gaan wees nie – dat die nuwe normaal so abnormaal is dat hulle tot in ewigheid geskaad gaan wees daardeur. Ons vergeet dat ons kindertjies uitkom met ‘n wonderlike veerkragtigheid wat mens iewers langs die pad as grootmens verloor ("To bounce back!").

Nadat ons vanoggend op “Stapsoldaatjie” deur die klas marsjeer het, bid ons vir gesonde lyfies en God se beskerming oor ons skool. Ons gaan oraait wees. Covid kweek ‘n generasie van die dapperste van die dapperstes. Hierdie kindertjies gaan vir niks stuit eendag as hulle die groot wêreld moet ingaan nie.

Op ons eerste skooldag soek ons toe die grootste deel van ons dag na paddas en eekhorings. Ons stap met kaalvoete deur die vlak voortjie se water om af te koel in die hitte. Een maatjie word twee en ons eet Lollos kolwyntjies onder ‘n skaduboom. Elizabeth kom sit langs my en vertel van haar bababoetie wat sowaar nog niks tande het nie. Luan spog met sy nuwe Ipad. Ander Luan vra of hy asseblief vir Lollos mag eet. En James sien kans vir Lettie. Elkeen vertel sy eie storietjies en niks het niks met mekaar te doen nie.

Die wonderlike, interessante wêreld van kleuters.

Mag ons regtig goed wees vir ons klein kindertjies in hierdie vreemde tyd waarin ons, ons nou bevind. Mag ons hulle oorlaai met liefde. Mag ons tyd maak om na al hul vreemde, oulike, interessante stories te luister. En mag ons hulle saans toevou met gebed vir beskerming en ekstra veerkragtigheid en dapperheid vir nóú.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep