Suikerwater en witbrood


 

Voor jy kinders het kan jy bedien soos Jesus bedien het, maar na jy kinders gehad het kan jy wees soos Jesus was. Neels sê dit gisteroggend so tong-in-die-kies. Dit laat my sommer terugdink aan baie lank terug toe ek ongetroud en sonder kinders was. Ek was by Bybelskool en betrokke by elke moontlike uitreik by ons kerk in Bloemfontein. Dertien jaar later sit ek by ons jongste spruit in die moederskamer. Sy pakkie rosyne lê gestrooi oor die vloer. Hy het ‘n ander maatjie in die kerk se kwakende speelgoed padda beetgekry en wil die ding om die dood nie uitlos nie. Wanneer jy op hom druk gaan daar liggies aan en hy steek sy tong uit. Dis Adriaan se beste dag ooit … met die liggiemakende, tonguitstekende, kwakende padda in die moederskamer.

Om te trou is ‘n onselfsugtige ding om te doen. Om dan daarna kinders te hê saam met jou man is in ‘n ander klas.

Daniël kom vertel van Janru se mamma wat elke liewe dag ‘n briefie in sy kosblik sit. Mamma skryf die volgende aand die mooiste liefdesbrief vir haar middelste se kosblik. Amé kla dat ek nooit meer iets lekkers met hulle doen nie. Ek speel so byna ‘n uur lank daardie middag Uno om op te maak vir al die ander dae wat ek haar so liederlik “afgeskeep” het. Adriaan rem my aan die arm om saam met hom plaas-plaas te kom speel. Ek wens soms ek was ‘n seekat-mens.

Vanmiddag neem ek vir Eunice huistoe na haar werksdag. Sy het twee van haar eie kinders en maak dan ook nog haar oorlede suster se drie groot. Oppad na die taxi staanplek oorval die hongerte alweer vir Daniël. “Oooo, Daniël, hy’s altyd ndilambile (honger),” lag Eunice. Ek vra haar of haar drie seuns ook so dikwels honger is. Sy knik haar kop en maak instemmende geluide. “En wat gee jy dan vir hulle?” wil ek nuuskierig weet. Hulle eet die twee snye witbrood beduie sy met twee vingers in die lug. En dan hulle drink die suiker by die water so saam met die brood.

Ek verduidelik oppad na Daniël se krieket dat Eunice se kinders water met suiker in drink omdat hulle nie koeldrank het nie. Ek verwag dat die Coetzeetjies hulle neuse sal optrek. Daniël antwoord: “Jissie, hulle is lucky! Ek sal al ons koeldrank vir hulle gee as ons eerder suiker in ons water kan drink.”

Manlief het die naweek gaan jag. Gisteraand sit ek so half op sy been en hy kielie sommer so ligweg met rug. Ek sien Adriaan hou ons stip dop. Dan sê die outjie in sy kwaai 2-jarige stem: “Pappa moenie mamma vryf nie. Dis my mamma.” Lambrecht het regtig nie gedink dis snaaks nie.

Kinders maak ons lewe propvol. Hulle haal die beste uit ons uit. En die slegste. Hulle laat daal ons na ‘n vlak waar ons nooit gedink het ons sal kan kom nie. Hulle laat ons baie lag én huil. Hulle ontneem ons van slaap. Hulle voeg ontelbare hoeveelheid vreugde by tot ons lewe.

Verlang ons soms terug na die dae voor kinders? Beslis. Wonder ons wat ons met ons tyd en geld gedoen het tien jaar gelede? Ongetwyfeld. Sal ons die energieke, lawaaierige, vrolike, uitbundige Coetzeetjies weer hê as ons kon oor kies.

O beslis! Ons lewens sou immers so rustig en saai en oninteressant wees sonder hulle. Met heeltemal te veel tyd, geld en slaap.




Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep