Dankbare roofkykers




 Ons sê dit almal deesdae gereeld – ons leef voorwaar in ‘n vreemde tyd. Vanmiddag was weer so ‘n vreemde ervaring…

Ons oudste speel haar heel eerste netbalwedstryd. Gisteraand lê sy in die bed en verklaar – sy weet nie of sy sal kan slaap nie. Haar senuwees is gedaan. Sy hoor uit alle oorde dat Courtrai (Paarl) regtig sterk is. En Rachel het ook gesê sy dink hulle gaan môre verloor. Ek kommandeer middelste boet op en ons bid albei ernstig vir vandag se heel eerste wedstryd. Toe doen ek die mooi toesprakie wat alle goeie ouers doen: Wen maak glad nie saak nie. Solank jy jou beste gee en dit baie geniet.

Vanmiddag na skool ry ons sommer ekstra vroeg Paarl toe. Ek presteer nooit goed onder druk nie en sal eerder ‘n uur te vroeg by die voorgeskrewe hek opdaag, as om in verkeer te stoei vir ‘n parkeerplek. Oppad Paarl toe eet ons droëwors en suurdeegbrood toebroodjies met ekstra grondboontjiebotter. Volgens my beperkte koskennis, die perfekte happie vir ‘n wen-wedstryd. Ons stop vining vir Energade en ‘n energiestafie. Na die 10 minuut lange eerste helfte moet mens darem mos seker jou energievlakke aanvul.

Die Covid-protokol vir die middag word herhaaldelik vooraf uitgestip. Ouers mag nie op die skoolterrein kom nie. Jy moet jou kind “drop and go” en ‘n uur later kom oplaai. Vroeër die week was hokkie en rugby wedstryde. Een van daardie mammas het vertel hoe sy feitelik op haar bus se dak geklim het om haar seuns oor ‘n heining te sien rugby speel. Sy is skoon lyfseer na die week se wedstryde. Maar sy sal klim en klouter soos nodig net om haar kinders te sien.

So kry ons sowaar toe ook vanmiddag ‘n blik op ons kinders se wedstryd. Ons almal staan gemasker teen die skoolheining af. Ons staan enkeldiep in klammerige gras en onkruid in ‘n vuurwarm Boland son. Maar ons gee  nie om nie, want ten minste kan ons, ons kinders sien. Ons skree kommentaar van die kant af en ons neem videos. Ons neem vragte foto’s en gee raad van agter ons heining in die son. Nadia is eers stil, want Nel het haar gewaarsku oor ‘n geskreeuery langs die veld. Carolien lyk verstom oor haar man se entoesiasme oor hul oudste se eerste wedstryd. Die een mamma regs van my klink self op ‘n stadium dreigend oor haar kind nie die bal afgevat kry nie. Amé gee my darem net een vuil kyk oor my (goeie) raad aan haar.




En soos goeie ouers is ons vrek trots op ons kinders se eerste wedstryd. Al het hulle verloor. Ons praat reeds oor die volgende wedstryde wat hulle in die toekoms sal speel. Ons sien opgewonde uit na nog baie jare se saamkuier langs die netbalbaan.

Ek moet ook vir ‘n oomblik glimlag oor ons land se ingesteldheid. Ons is meestal ‘n dankbare klomp mense. Daar word ingebreek by ons motors, en dan is ons steeds dankbaar dat hulle net ingebreek het en nie die hele motor gesteel het nie. Daar word ingebreek by ons huise, en dan is ons so dankbaar dat hulle ten minste net ‘n paar kosbare items gesteel het en niemand verkrag of vermoor het nie. Covid het ons beslis geleer om oor NOG meer dinge dankbaar te wees. Alhoewel die kinders met maskers moet skooltoe gaan, kan hulle ten minste skooltoe gaan. Alhoewel ons net van Maandag tot Donderdag mag alkohol koop, mag ons ten minste alkohol koop. Alhoewel ons net tot 22:00 mag uit wees, mag ons ten minste weer met mense kuier. Alhoewel ons deur ‘n heining moet netbal kyk, kan ons ten minste netbal kyk.

En daarvoor is ons vandag diep dankbaar.

Maar ek voel nie elke dag so dankbaar soos ek nou voel nie. Die laaste maand of wat was ek ‘n paar keer verskriklik kwaad vir covid. Of weer kwaad. Of opnuut kwaad. Of nogsteeds kwaad. Kwaad omdat party mense doodgaan van covid. Kwaad omdat party mense doodgaan van die inenting. Kwaad omdat covid en die inenting soveel angstigheid en onvrede veroorsaak en soveel kopspasie en vreugde steel.

Twee naweke gelede vertel ‘n vriendin hoe sy anderdag haar kinders by die skool afgelaai het. Dit was vroegoggend en sy was regtig nogal haastig. Toe sien sy hoe ‘n ouerige tannie sukkel om haar motortjie aan die gang te kry nadat sy haar kleinkinders afgelaai het. “Kan ek tannie gou ‘n stootjie gee,” loop vra sy toe die tannie. Net twee stootjies verder, en daar ry die tannie. Die tannie se dogter het haar opgesoek om haar te bedank vir die heldedaad. Die twee stootjies het die wêreld se verskil vir haar ma gemaak.

Die storietjie het my so geïnspireer. Ons leef nou met maskers in hierdie vreemde covid-tyd. Ons het by die Engelse geleen deur te sê –Dit is nou wat dit is. Maar kom ons leef bewustelik, elke dag, want iewers is daar iemand wat dalk net twee hupstootjies van jou benodig. Ons dra net maskers. Ons kan steeds hoor en voel en sien en dink.

Ons het steeds oneindig baie om voor dankbaar te wees!

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep