Die Veldhuisie verhaal

 Ongeveer  12 jaar gelede het ons een sonnige Saterdag ‘n ysperpaal ingeslaan op ‘n kaal plek, langs ‘n sanderige laagte in die tuintjie se kamp. Ons mans was nog net ons boyfriends. Op die foto’s wat ons van daardie dag het, staan ons mans grappig met ‘n hamer in die hand, gereed om die paal in te slaan. Ek dink ons het nog met klein glasies wyn gecheers op hierdie paal-in-die sand. Ons sussies was so dankbaar om weer lig in my pa se oë te sien. Na my ma se dood was die wêreld vir lank ‘n baie donker plek vir my pa.

Maar hierdie veldhuisie sou my pa en tannie Marinda se eerste projek saam wees, as pasgetroudes. Vir albei ‘n nuwe begin na ‘n baie hartseer hoofstuk. Uit die staanspoor was hul droom vir die veldhuisie dat dit moes vrede en rus bring vir almal wat daar aan doen.

My en Lambrecht se eerste uitslaap sonder kinders, nadat ons kinders gehad het, was in die veldhuisie. Tannie Marinda het ons aangemoedig om ‘n aandjie “af te vat” en die kinders by oupa en ouma te los vir oorslaap by die veldhuisie. Ons sal daardie aandjie nooit vergeet nie. Dis van my en Lambrecht se kosbaarste herinneringe. Iewers tussen jare en maande van verantwoordelikhede en kinders grootmaak en lysies aftiek verloor mens mekaar. By die veldhuisie is dit stil genoeg om weer mekaar se harte te hóór.

Een keer ‘n jaar gaan span ons gesin vir ‘n langnaweek in die veldhuisie uit. Ek spot altyd dat ek en Lambrecht oor so ‘n langnaweek ‘n jaar se prate praat. Die kinders is gewoonlik saans taamlik moeg gespeel. Nadat hulle help donkievuur en skermvuur maak het, kan ons hulle net vinnig stort, kos gee, een of twee storieboeke lees by die gaslamp en dan is hulle in droomland. Daar, by die skermvuurtjie, onder die helderste sterre en die stilste stilte, hoor mens mekaar werklik. En jy verstaan mekaar omdat daar nie ‘n foon of televisie of enigiets anders is nie. Net mekaar.

Familiekuiers in die veldhuisie

Skaapdrolletjie spoeg kompetisie

Die skerm



Anderdag lees ek in ‘n tydskrif – Die mees effektiewe ding wat jy partykeer kan doen, is om te rus.

Wat kan mens by die veldhuisie doen? Jy kan rus. Of niksdoen. Of jy kan op jou fiets klim en ‘n rigting ry. Of jy kan in enige windrigting stap of draf. Sonder om oor jou skouer te kyk of ooit bang te wees.  Jy kan saans gaan slaap sonder om enige deur of venster toe te maak. Geen tegnologie werk nie, en jou kop kan dus ook rús.

Ek vertel die veldhuisie storie, want vir lank het ons net met vriende en familie daar gekuier. Onlangs sit ons een middag rondom die tafel op die stoep by my pa en tannie Marinda. ‘‘Dalk moet julle die veldhuisie oopstel en mense laat betaal om daar te kom rus,’’ stel ons eendag voor. Hulle hou nie eers van ons plan nie. Maar die Boesmanland lyk sleg en elke keer wat ons uit die Boland kom kuier, lyk dit nog slegter. Dis tyd vir plan B. Ons sien hoe die droogte ons pa ouer en kleiner maak. Tannie Marinda stap dapper langs my pa. Sy help die klomp droogte hanslammers met bottels grootmaak, sy motiveer, sy bid. Maar ons weet die droogte se wurggreep trek stywer. Hulle wil net eers bid oor die saak, laat hulle later weet. En eendag kry ons die boodskap: Ons kan voortgaan met ons planne.

Ons weet die veldhuisie se rus kan mense uit dorpe en stede wat moeg gejaag is red. Maar dit kan ook ‘n wonderlike Plan B vir my pa en tannie Marinda wees.

As jy uit die Boland ry, is daar wonderlike plekke wat jy kan besoek oppad Veldhuisie toe. Ek vertel graag. Dis ons gesin se gunsteling plekke. Iewers tussen Vanrynsdorp en die Vanrynspas lê die baie oulike padstal/restaurant, Bagdad. Hulle het die vriendelikste eienaars en hulle bak die grootste pannekoeke wat jy nog in jou lewe gesien het. Oppad uit die Kaap is dit ‘n baie lekker piepie en pannekoek eet plek. Wanneer jy deur Loeriesfontein ry moet jy beslis gaan inloer by die Windpomp museum. Dis ‘n unieke ervaring.

En dan vat jy die 180km grondpad tot by die Veldhuisie. Pak genoeg padkos vir daardie stuk grondpad. Daar is oral stopplek as jy wil bene rek of ‘n veltie vang. As jy hierdie stuk pad vat, sal jy klaar voel hoe die spanning en gejaag uit jou padgee.

Na jou naweek in die veldhuisie moet jy beslis met ‘n ander pad terugry huistoe. Almal behoort een maal in hul lewe deur Pofadder te ry. Al is dit net om vir vriende te vertel jy was ook dáár. Doen moeite en gaan soek vir Local is Lekker. Hulle jaffles is blykbaar die beste op die dorp. Hulle het ook tuisgebakte koekies en regte boerbrood. Dis oom Stanley en tannie Mercia se winkel en hulle is regtig gawe mense. My Marietjie-sus maak die mooiste skaapvel pantoffels, sleutelhouers en geskenkskapies. Jy kan dus sommer ‘n skapie saamneem huistoe as aandenking.





'n Skapie uit Pofadder

Ons was nou ‘n week in die Boesmanland. Vir ‘n week lank het ek nêrens gejaag nie. Ek sê altyd ek bid en dink beter in die Boesmanland, want hier is so niks. Hier is genoeg spasie en tyd vir bid en dink. Dalk het jy spasie nodig vir bid en rus en dink. Dan moet jy beslis die pad vat Boesmanland toe.

Veldhuisie toe.

dieveldhuisie@gmail.com / Kyk gerus ook op Facebook

 

 

 

 

 

 

 

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep