Planttyd




 Soms is daar vir dae en weke en maande niks woorde in my kop nie. Ek jaag voort teen volspoed. En dan een Sondagmiddag, terwyl ek met my hande in die sand sit, is die woorde en stories plotseling terug. Ek is altyd so dankbaar as dit terugkom.

Ek woon in my droomhuis. Dit is nie te groot nie en nie te klein nie. Dis nie pynlik netjies en perfek en super modern en baie wit nie. Maar dis perfek vir óns. Dit het die mooiste uitsig op die berge rondom ons en ‘n plaaswerf van ons-weet-nie wie nie. Ons kan die beeste sien en hoor. Ons kan wonder oor wat in die groente tonnels geplant is. Dis wat ons gelukkig maak. Toe ons vier jaar gelede hier ingetrek het, het die tuin gespog met ‘n klein stukkie roostuin. Onder die dek was ‘n paar pragtige krismisrose. Alles moes waai. Die Coetzee-kindertjies was klein en my energie vir tuinmaak het nie bestaan nie. En alhoewel die Coetzeetjies klein was, was ek in ‘n stryd gewikkel met manlief vir ‘n nr.3. Dit het so baie energie en trane gekos. So onnodig. Want sekere dinge doen net die Here.

Met my verjaarsdag onlangs het ek so baie plante gekry. Die lieflikste huisplante, en ook buite plante. Skoonpa en skoonma het anderdag met arms vol plante arriveer. Vanmiddag terwyl ek dit plant, laat dit my nadink. Ek wil glo daar is iets betekenisvols aan die plante wat ek so uit verskillende oorde gekry het. Terwyl ek die mooi malvas plant, glimlag ek. Vier jaar gelede het ek al wat ‘n blom is uitgepluk. Nou is ek besig om soveel blomme met ‘n gelukkige hart te plant. Daar is mos die oulike gesegde wat sê: Blom waar jy geplant is.



Vanmiddag wil ek dit anders sê: Plant waar jy is, orals. Alle kleure. Dit sal nie net vir jou gelukkig maak nie, maar ook die mense rondom jou.

Onlangs gaan ons na die veldhuisie by my pa-hulle. Ons Somerset-Wes Coetzee familie gaan saam. Ons is so gelukkig om nog vlak watertjies in ‘n gronddam te kry na die onlangse reën. Die kindertjies speel na hartelus in daardie Boesmanland reënwatertjies. Van Heerden neem die mooiste foto’s. Hy vang ‘n naweek se rus en vrede so besonders vas op kamera. Terwyl jy daar in die skerm sit onder die sterrehemel, besef jy net weer hoe klein en nietig jy is. As jy ‘n draaitjie in die veld gaan stap en sprietjies groen tussen dorre graspolle sien, besef jy dat ons eintlik niks van die Here se almag verstaan nie. Niks nie. Ons wil die Here boks om Hom verstaanbaar te maak. Dis net nie moontlik nie.




Terwyl ek so 'n Sondagnamiddag geluksaligheid ervaar, gaan draai my kop skielik 'n ver draai. Vrouens se koppe is mos altyd vol van klomp dinge en emosies. Ek is maar altyd te bewus van die feit dat terwyl ek dalk besig is om vreugdevol blomme te plant, daar iewers iemand is wat deur 'n stuk hartseer stap. En dan Leon. Of die Pofadder-moord soos almal dit noem wat nie vir Leon geken het nie. Baie jare gelede, toe ek nog ‘n vierde jaar op Kovsies was, het Leon van Pofadder af gery om saam met my na my koshuisformeel te gaan. Hy was van die grootste gentlemens wat ek in my lewe teëgekom het. Ek lees al die lelike goed wat nou oor hom gesê word en probeer onthou of daar destyds iets donkers aan hom was. Na die formeel het ons kontak gehad en nog uitstappies saam onderneem. Maar Leon was daardie tyd altyd lig. Dalk was hy ‘n gentleman omdat ek hom met respek hanteer het? Nou skryf mense wat hom nooit geken het nie briewe en lewer kommentaar op sosiale media. My hart is seer, seer, seer. Veral vir die kindertjies. Oor min jare sal hulle alles kan raak google. My kop wil eintlik nie eens daaroor dink nie.

Ek moet eers afsluit. Ek wou eintlik net skryf oor blomme en gelukkig wees, want hierdie tyd van die jaar voel mens soms soos ‘n verwelkte blom. Maar ek moes skryf oor Leon. In ‘n wêreld vol van leuens moet ons immers aanhou veg vir waarheid.

Dus, as jy nie voel soos blom nie, plant blomme en plante. Sommer baie daarvan. En hou aan opstaan vir waarheid.




 

 

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep