Eet, bid, liefwees

Eet, bid en liefwees

Vandag het niks gebeur nie. En tog ook so oneindig baie wat nie met die oog gesien kan word nie.
Vanoggend is ek vroegoggend by Corieta weg nadat ek en sy gisteraand weer ons spesiale fliek-en-visaande gehad het. Oppad terug na my huisie het Celine Dion se Goodbye’s baie skielik en onverwags begin speel, liedjie nommer sewe op die spesifieke CD. Ek ken die nommer, want ander dae “skip” ek dit. Dit begin so:
Mama, you gave life to me,
Turned your baby into a lady,
Mama, all you had to offer,
Was the promise of a life time of love...

 My hart was skielik alweer so baie seer. By die huis gekom het ek traag begin aantrek vir kerk. Daar, op die ingewing van die oomblik besluit ek toe om iets te doen wat ek nog nooit vantevore so blatant oorweeg het nie: Ek besluit dat ek vandag kerk gaan bank. Ek gaan Worcester toe ry vir Mug and Bean-koffie en ’n huil-fliek. Ek besef dat nie die koffie of die fliek of die brandstof ingereken is in hierdie maand sê baie mooi beplande begroting nie. Maar daar in my piepklein woonstel, met reën wat aanhoudend op die sinkdak val en my hart wat so seer voel, kan ’n begroting wat klop my nou min skeel.
Ek besluit om darem die kerk oppad Worcester toe oor RSG te luister. Regoor Botha Kelder reën dit egter so hard dat ek nie die predikant kan hoor preek nie. EK trek dus eers  van die pad af en stuur maar ’n skietgebedjie op dat niemand by my sal stop nie. Dis ’n swart dominee wat vanuit iewers in Afrika preek...en hy preek vanmôre oor storms. Hy lees uit Markus 4 hoedat die Here ’n storm kon beveel om stil te raak. Die Here is ’n vredevors. As Hy praat raak storms stil en daar kom stilte en vrede. Hy sit en wag net dat ons Hom sal aanroep.
Ek trap vir Grietjie vas en die laaste paar kilometers Worcester toe vlieg! Ek klim voor Worcester Mall af, bybel onder die arm en stap sommer reguit na Mugg and Bean. Na ek vir my ’n koffiegeur frappe bestel het begin blaai ek deur my bybel. Ek sien ’n paar omies loer geïnteresseerd oor hul koffie en Rapporte na my  en my frappe en my wit bybel, maar vanoggend kan ek my min steur aan die wêreld. My bybel val oop by Klaagliedere. Glo my, ek doen nooit vir Klaagliedere nie! Ek staan onverklaarbaar stil by Klaagliedere 3:25 &31
Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die wat na Sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here. & Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want Sy liefde is groot: Dit is teen Sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.
Ek gaan bêre eers my bybel voor ek Nu Metro inmarsjeer vir my tweede Worcester besoekpunt. Eat, Pray& Love wys toe ook al in Worcester. Ek en Corieta het ons net die vorige aand voorgeneem om dit saam te gaan kyk. Ek hoop Corieta kan vergifnis in haar hart vind vir my...maar ek MOES. “Corieta, ek sal dit wéér saam met jou gaan kyk!”
En saam met enigiemand wat dit ook wil gaan kyk in die toekoms. Dis BRILJANT.
Liz (Julia Roberts) laat my notas maak in Georgie se protea notaboekie, in die stikdonker flieksaal. Ek wil net bevestig dat ek nie normaalweg sit en notas maak terwyl ’n fliek wys nie, maar ek moes net vandag! Ek kon nie eens sien wat ek skryf nie, maar ek was bereid om na die tyd te ontsyfer – liewer ontsyfer as die gevaar loop om kosbare lewenslesse te vergeet.
Julia Roberts oor haar hoofrol in Eat Pray Love
Iewers in Italië staan Liz in ’n ou murasie. Terwyl sy om haar heen kyk besef sy:  Ruin is a gift. It is the road to transformation. Terwyl ons in die ruin van ons lewens staan maak dit nie sin nie, maar terugskouend glo ek dat die Here met elke liewe waarom, ’n daarom antwoord het.
Die Italianers leer Liz ook van die Sweetness of doing nothing. Ons Suid-Afrikaners voel so maklik skuldig oor ons “niksdoen”-oomblikke nie, maar is dit nie juis waarin ons krag en energie vir môre lê nie?
In Indië leer Liz die belangrikheid van To master your thoughts. Raak als nie te veel wanneer ons denke ons beheer en nie andersom nie?
Tydens haar tydjie in Bali wil al die nuuskierige inwoners weet waarom sy nie ’n man het nie. As jy in Bali is, moet jy beslis een maal ’n Bali love affair ervaar. ’n Goeie vriend merk droogweg op dat Liz met haar persoonlikheid wat altyd in beheer wil wees nie ’n man nodig het nie. Sy het ‘n champion nodig. Hierdie opmerking het my so laat glimlag. Prys die Here dat Hy ook al lankal weet dat ek nie na ’n man soek nie. Ek het ’n champion nodig wat Hom ook liefhet. Hierdie champion sien ek beslis in Lambrecht. My gebede is dat die Here ook my single maatjies sal bless met champions op die gepaste tyd!
Net voor die einde voel Liz uiteindelik in beheer van haar lewe – dis nou nadat sy byna ’n jaar afgevat het om hierdie balans te herstel. Sy’s bang om weer lief te raak, omdat sy bang is haar balans sal versteur word. Dan vra ’n tandlose Indiese omie vir haar of sy dan nie weet nie: Mens moet bereid wees om jou balans op te gee vir liefde, want juis hierin lê balans. Gelukkig wees in die wêreld en balans hê is gelyk aan liefhê.  
Ek ry namiddag by Worcester weg met die “Sweetness of doing nothing” op my lippe. Ek laat Celine weer vir Goodbye’s sing. Maar hierdie keer weet ek dat Ruin is a gift. En ek weet uit wat die Here vanoggend bevestig het in Mug and Bean dat sy goedheid elke môre nuut is. Ek moet net aanhou hoop!



Comments

  1. Ai liefste Sunetjie! Dankie vir die soet-seer storie wat jy met my gedeel het. Ek hoop tog net dat jou pad wel iewers sal kruis met die rekenaar in terme van stories neersit op papier vir geld, want jy is daarvoor gebore.
    Ek is juis ook tans in 'n "ruin". My universiteitskerel van vier jaar, met wie ek toe op 17 tot 21 'n uitmergelend-hartstogtelike liefde gedeel het, is aan die begin van die jaar geskei, en ons het mekaar weer begin sien, hoewel Johannesburg nie heeltemal "sien" daarstel nie. Ons het vreeslik baie oor die foon gesels, nagte en soms in die dag. En ek was een keer saam met hom na sy netjiese strandhuis in Kenton-on-Sea. Die verhouding was moeilik op universiteit, en ek het doelgerig besluit om my vlerkies van 20 jaar oop te maak en uit Bloemfontein weg te vlieg, want ek het net eenvoudig nie kans gesien vir die noodwendige gevolg van jonk trou, suburbia, babatjies, in Bloemfontein dalk bly nie. Die verhouding het moeilik tot niet gegaan, want ek het gevlieg en hy het bly klou, en hoe meer hy geklou het, hoe meer wou ek vlieg.
    En toe het hy gistraand twee weke gelede besluit om die lewe radikaal te verlaat met die hulp van 'n pistool. Ek voel vreeslik skuldig, en hartseer, en kwaad. Maar hy was bipoler-depressief, dinge het begin skeef loop omdat hy onverskillig geleef het, en ek was bang dit kom naby my twee fabelagtige dogters. En toe ek vir hom skryf ons kan nie aangaan nie, het hy drie dae later die vreeslike daad van selfmoord gepleeg. Ek glo dat iets uit die ruine hiervan gebore sal word, maar ek meen tog op die oomblik dat selfmoord 'n vreeslike daad van verwerping van jou familie en omgee-vriende is wat hulle lank bloots sal ry.
    Ek is bly jy het die fliek so geniet. Die boek was vir my soveel beter en intenser. Ek dink net dit was 'n te groot uitdaging om die storie van meer as twee jaar in een fliek te vertel. Ek het haar volgende boek, Commitment, waarin sy navorsing oor die huwelik gedoen het omdat sy en einste Bali-Felipe moes trou vir visum-doeleindes - wat sy nie graag wou doen nie.
    Ek moet net bely dat ek deesdae so anders na film kyk vandag ek elke dag daarmee werk, en vandag my dogters week na week besig is met film-produksie. Greta wil graag volgende jaar spesialiseer in animasie, animasie. Mia gaan twee hoofvakke neem wat baie werk gaan beteken, maar dit gaan produksie-ontwerp en Kostuums, Grimering en Stilering wees. Ek oorweeg om my M in film te doen!
    Ek gee ook baie lekker klas by Vega-Branding Skool. Kommunikasie-vakke bly eenvoudig betowerend vir my.
    Ek wil so graag jou geliefde Lamprecht ontmoet. Ek is so dankbaar dat Jesus vir jou so 'n droom-man gegee het. Ek wens so Mia en Greta kan ook elkeen so 'n sielemaat kry, en glo en bid dat dit sal gebeur.
    Ons moet mekaar tog te siene kry. Wanneer is die groot-groot dag? Jy moet sekerlik Kaap toe kom om goedjies te kom kry?
    Ek weet jy moet jou liefste mamma so vreeslik mis in die opwindende tyd, maar sy weet alles en geniet dit saam met jou!
    Dankie vir jou brief-storie!
    Al my liefde.
    E

    ReplyDelete
  2. My niggie!
    Dis baie mooi! En ek is weer in trane!
    Ek wil daai fliek sooooo graag gaan kyk! Jy't my nou oortuig!
    Baie liefde en groet! laat weet as jy wil skype asb? Ek wil met jou chat!

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep