Liefde vir padkos

Die matriekafskeidrok waarin Ilse haar moes dieet het perfek gesit – net soos dit moes. Tannie Elaine (haar ma)  het prentjiemooi en skraal gelyk vir die matriekafskeiddrankies vooraf waarheen die ouers ook genooi is...
Ilse & tannie Elaine
Die vakansie het uiteindelik aangebreek en sommer met die eerste naweek na die matriekafskeid  word daar geëet asof dit oordeelsdag is.  ’n Ou pasta’tjie met ekstra room en kaas, tesame met ’n glasie witwyn vir saam met die ryk pasta, is op die spyskaart vir die Saterdagaand.
Na die uiteet vat ons ’n koffietjie met van Cadbury se lekker nuwe “flavours” sjokolade...sommer net vir ’n laatnag happie so by die lekker kuier.
Sondag is kuiertyd saam met die familie. Tannie Elaine en Ilse kom laatnamiddag eers by die huis: Vrolik en baie versadig. Daar’s blykbaar gekuier om ’n spit met lekker slaaie en nagereg daarna.
Sondagaand kondig tannie Elaine aan dat sy nou regtig nie meer kan eet nie. Sy het lanklaas so klomp kos op een naweek geëet. Dan bieg my sussie wat deel van die kuiergeselskap is, dat sy sowaar sal kan moor vir ’n MacDonalds mcFlurry – net so ter afsluiting van ’n “vreetsame” naweek. Tannie Elaine besluit net daar dat sy Marietjie nou nie alleen sal laat eet nie en bestel ’n kaasburgertjie net om ’n goeie gasvrou te wees.
Ek, Marietjie en Wilma - deel van die GROOT eters!
Maandagmôre pak ons die langpad huis toe aan. Tannie Elaine en Ilse is beslis: Vandag gaan hulle net water drink – al die pad van die Paarl tot in Kakamas.
Iewers net voor Kardoesie (ongeveer 90min vanuit die Paarl), vra Ilse of ons by Kardoesie kan stop. Die baie water het haar blaas baie vol gemaak! So gesê, so gedaan.
So lyk Kardoesie!
Nou as jy al ooit by Kardoesie padstal gestop het, sal jy baie goed weet dat dit ’n lushof van lekkernye en geskenke is.  Ilse het net een draai deur die winkel gestap en besluit toe dat sy haarself genoeg gemartel het. Mens kan jouself ok net so lank uithonger, aldus Ilse. Dit was tyd om te luister na haar hongerpyne.
Ons stap dus daar uit met ’n tamaai sak appelringe, want appelringe is mos gesond. Ilse het besluit op ’n kardoessakkie “mango strips” vir padkos. Maar die hoogtepunt moet die suikersoet, aller pikante soentjiekoekies wees. Ek noem hulle soentjies, want hulle lyk op ’n druppel na soentjies! Laasgenoemde is eerste en vinnig opgeëet.  So tussendeur hemelse happies soentjiekoekies beloof tannie Elaine plegtig dat dit van Dinsdag af net weer groen slaai en yoghurt is.
Ons stop darem nog vir oulaas op Klawer vir ietsie Wimpy-lekkers...al is ons taamlik versadig. Wimpy is tradisie en mens breek nie tradisie nie!
En buitendien is dit net vier maal ’n jaar vakansie en jy ry nie elke dag van die Paarl af Kakamas toe waartydens jy baie padkos kan eet tussendeur lekker gesels nie!  

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep