Getroudwees smaak soet



Hy kom anderdag met ‘n raserige PnP-sak agter die rug by die huis aan. Na ons klaar gegroet het haal Lambrecht die mooiste, vetste rooiwang mango agter sy rug uit. Vir my is dit kosbaar. Na ‘n lang dag by die werk was my (nuwe) man bereid om in ‘n PnP tou te staan – om my te bederf met een van my gunsteling vrugte in die wêreld.
“Die huwelik is soos ’n blomtuin ou Surra”, raak my pa die ander aand filosofies oor die telefoon. “Hoe meer jy in die tuin werk, hoe mooier die blomme wat daai tuin sal dra.”
Ons staan aan die begin van ons lewenspaadjie saam en op hierdie stadium is ek steeds heel betower deur my man en die huwelik. Nooit sou ek kon droom dat dit so lekker kan wees om elke môre langs dieselfde man wakker te raak nie. Niemand kon my voorberei op die seën  van laataand gesels met koffie oor diep dinge nie. Niemand vertel jou die lekkerte van alle eerstes nie...eerste inkopies, eerste keer saam in die kerk, eerste keer dat jy hom “my man” kan noem. Die eerstes is so volop soos geel duwweltjies in die Boesmanland na goeie reëns.
En ons weet die eerstes hou iewers op. Iewers raak mens seker gewoond aan getroudwees. Iewers knak jy sekerlik en kla oor die vragte wasgoed, of die elke aand se kosmaak, of die min ruimte vir die self. Ek glo so. Ons is net mens. Elke aand raak ek en Lambrecht egter ’n rukkie saam stil voor die Here. Ons lees saam en dan bid ons – so beurt-beurt. Die Here sal ons huwelik ’n sprokie hou. Die Here sal dit ’n avontuur en groot lekkerte hou. Dis nou as ons self ook bereid is om moue op te rol en hard te werk aan ’n blink toekoms.
Hoe ek geweet het Lambrecht is die een? Hy gee my vlinders in my maag en vlerke om te vlieg. Hy’s die baas, maar weet van beter as om dit ooit te waag hardop sê. Vir hom wil ek mooi wees, maar by hom is ek nooit bang om op minder mooi dae, maar eenvoudig minder mooi te wees nie.
Die huwelik is ’n heilige instelling en ’n wonderlike geskenk van God. Uit elke man se rib is sy vroutjie gevorm, spesiaal om weer te pas na aan sy hart, langs sy sy.
My gebed is dat elke vriendin die vreugde van ’n goeie man sal smaak. Dit smaak iewers tussen ’n volronde rooiwyn en ’n blokkie Lindt sjokolade...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep