Vol Moed na Moedskep
Piketberg se boerseuns mag partytjie hou – dit het die Moedskepdans die ander aan duidelik bewys!
Ek en my man word deur ’n vriendin met belange in Piketberg genooi na dié plaasdans van die jaar. Ons is ook nie links nie en beplan heelweek aan ons uitkamp in Elandsbaai. Self het ons nie ’n enkele stukkie kampbehore nie, maar ons leen Nico se oulike groen tentjie met Yvette-hulle se luukse blou opblaasmatras. En toe’s ons gereed vir ons eerste uitkamp in Elandsbaai.
Sommer met die aanland in Elandsbaai waarsku die hand vol oopgesig Piketberg boerseuns dat hulle vanaand moedskep en moet skep. Wilma het ’n BMW vol “single” vriendinne uit die Paarl saamgebring – sodat die boerseuns wat nog alleenlopers is darem goeie geselskap vir die aand het. Ons kampplek bestaan uit ’n klomp geleende tente en kampstoele, ’n tafeltjie met genoeg alkoholiese verversings vir ’n weermag en ’n heel paar koelsakke, gelaai met ys.
Ek en my man was skaars uit die motor of Lambrecht word ’n bier in die hand gestop. Die klomp petite meisies uit die Paarl is oppad hotel toe – om daar op ’n meer beskaafde wyse te begin gees opbou vir die aand. Sommer met die sitslag in die hotel arriveer daar ’n rondte springbokkies aan ons tafel, gevolg deur ’n rondte “Jagger boms.” Die ruimhartige kêrels is blykbaar spiertiere al die pad van die Kaap – manne waarmee daar heeltemal niks skort met die selfbeeld nie. Een kyk na die geborshaarde spiermassa met die uitspattige rooi sonbril was genoeg om my te laat gril. Carla het egter dadelik potensiaal bemerk...potensiaal om baie “shooters” gratis te kry. Sy het dus haar deel vir die groep gedoen en haar sjarme-kraantjie wyd oopgedraai vir die “capies.”
’n Paar shooters sterk was ons nou op dieselfde bladsy as die Piketbergboere en gereed vir lekker moedskep. Ek het laas in die koshuis so in die bondel gestort, grimeer en aangetrek. Adele het haar tent ingerig as salon, kompleet met spieëls en die hele toetie sodat almal daar kan gaan hare doen ens.
Niks kon my voorberei op wat die jaarlikse Moedskepdans behels nie. Mense kom letterlik van heinde en verre om dit nie te mis nie. Mense arriveer met koelsakke vol genoeg van jy-weet-wat sodat daar moedgeskep kan word in oorvloed. Honderde bale word uitgepak met geel net daaroor as sitplek. Die dansbaan is enorm groot en lê swart van snysels motorband vir lekkerder dans. Later die aand dans mense letterlik dat die “tyre” staan.
Die ete is eenvoudig, dog heerlik. Mens kan sien dat dit plaasmense is wat gesorg het. Van alles is daar meer as genoeg. Nagereg is niks anders as hompe suikersoet waatlemoen waaraan elkeen homself sommer kan help.
Die Cambell-boeties laat ons daai aand by Moedskep dans dat ons voete die volgende môre ’n aardige swart “tyre” gemors is – “tyre” en voetseer.
Van baie moedskep is die boertjies nie baie lus vir opstaan die volgende môre nie. Maar ’n diepe dors en die son, jaag hul vroeg-vroeg uit die vere. Die meisies smag na koffie – en sommer so in pajamas word daar koffie gekoop by die Sonskynkafee op die hoek.
Ek sorg dat ek die volgende môre eerste is om te stort. Op pad stort toe glip ’n branderplankryer en sy meisie flink by my verby met ’n beleefde “sorry.” Ek stort dus langs ’n branderplankryer en sy meisie in die damesbadkamer van Elandsbaai se ablusieblok...nog ’n eerste vir my!
Terwyl ek grimering aansit kom ’n ou tannie met so blou sweetpakkie in die badkamer aan. Alles aan haar ruik na rook. Ek hoor hoe sy die arme skoonmaker uitvreet oor die paar sandkorreltjies in die badkamer – sy doen dit in keurige Afrikaans.
Dan draai sy na my en sê in gebroke Afrikaans: “These people, I just don’t understand them.”
Ek wil amper sê, “Nee tannie, ek’s Afrikaans. Ek drink wyn in Afrikaans, ek lag en huil in Afrikaans en ek het gisteraand diep lekker moedgeskep in Afrikaans. O ja tannie en daar’s niks om te verstaan van dié mense nie. Dis vroeg Sondagoggend en sy het ook ’n lewe. Sy is eintlik nie eens veronderstel om op ’n Sondagoggend hier te wees nie.”
Ek besluit om eerder stil te bly. Ek’s vanoggend immers vol moed...
Comments
Post a Comment