Padkos en bottelkoffie
Vir my man se 30ste verjaarsdag pak ons piekniekmandjie en kies koers kus toe. Engelandse kus. Ek staan vroegoggend al op om ons blou “coolbag” en koffiebottel gereed te kry vir die uitstappie. Na manlief se oggendkoffie en stukkie beskuit is ons gereed vir in die pad val. Ons is albei kinderlik opgewonde. Volgens ons nuwe Tom Tom, Carike, sal dit ons net 90min duur om ons bestemming te bereik. Ons besluit egter dat ons steeds halfpad ‘n koffiestop sal maak – mens moet tog halfpad seetoe stop vir koffie, ongeag hoe naby halfpad is. Ons halfpad stop is by ‘n vulstasie, voor ‘n onderklere winkel. Manlief sit vir Nico Nel op vir bietjie vermaak terwyl ons behaaglik teug aan ons suikersoet padkoffies. Dan val ons in die pad vir die laaste stukkie seetoe – terwyl Nico vertel van die vis wat moes leer oorleef in die Namakwaland. Die vis was later so goed aangepas dat hy saam met die honde op die werf gespeel het en saans saam met die skaaphond biltong voor die stoof...