Tuisgemaak bly koning

My man wou my nog nooit regtig daarbinne toelaat nie. Ons dorp het nie ‘n Iceland nie, maar waar my skoonma-hulle woon, is daar wel een. Elke keer wat ons daar verbyloop vra ek temerig, “Ag kan ons nie net een ou keertjie instap nie.” Ek kry elke keer daai, ons-het-al hieroor gepraat kyk. Iceland is verbode vrugte. Hulle kos is ongesond. Die rye en rye vrieskaste vol gevriesde goedkoop wonders is verbode vrugte, laat Lambrect my mooi verstaan.

 Anderdag leen Lambrecht my sy motor terwyl hy ‘n kurses doen. Ek verken New Market ‘n hele dag lank op my eie en is heeltemal uit my nate toe ek ‘n Iceland lewensgroot op die een straatsoek sien staan.

 Uiteindelik.



Ek vergeet skoon dat dit onbedagsaam en disrespekvol is om teen jou man se wense te gaan. Toe ek my weer kry staan ek in Iceland. Ek vergaap my aan die rye en rye gevriesde kos teen weggeepryse. Ek stap sommer drie keer die rye op en af, net om alles ordentlik in te neem. Voor ek mooi weet wat ek doen, staan ek met my “cupcake” notaboekie en pen in die hand. Ek moet lysies maak van die lekker goed en hul pryse. Ek moet vir my Pofaddersussie vertel dat mens 12 “iced cupcakes” kan koop vir £1 (R12). Ek moet haar ook vertel van van die “Beef stew” wat jy 9 min en £1 later op jou middagetetafel kan voorsit vir jou gesin.

 Ek twyfel sterk of dit die kaliber “beef” is waaraan haar Stan-man gewoond is. Maar Iceland- mense soek goedkoop en vinnig. Kwaliteit is van minder belang.

 Ek dink onwillekeurig aan hoeveel moeite skoonma Elize doen wanneer ons daar gaan kuier. Haar gebak is altyd self gedoen. Elke bestanddeel is van die heel beste kwaliteit. Ek wonder sommer wat sy sal sê van Iceland se “Family Gooey chocolate Brownie pudding” of hul “double decker cheesecake”.

 Net Donderdagaand kyk ek en my man ‘n program wat handel oor die reusagtige probleem in Engeland met reusagtige mense. Ons praat hier van die tipe oorgewig wat ek nog nooit in Suid-Afrika gesien het nie. En blykbaar is hierdie ‘n groeiende probleem. Huidiglik worstel een uit elke vier mense in Engeland met soortgelyke krisis.

 “Hoe ráák mens so vet,” wou ek die ander aand weet. Jy moet tog genoeg geld verdien om hierdie hoeveelheid kos elke dag te kan bekostig, en dan moet jy dit immers nog iewers gaan koop ook. (Blykbaar verdien hierdie tipe “groot” mense “benefits” van die staat omdat hulle ongeskik is om te werk.) Ek kon nie lekker besluit hoe dit moet werk nie.  

 Toe ek by Iceland uitstap sien ek hoe dit oor die een hele ruit van Iceland staan, in rooi: "Free delivery." Met ‘n paar klieke van ‘n muis kom lewer hulle dus jou hele lysie af. Gratis.

 Ek ril sommer.

 Ek’s jammer Lambrecht. Iceland sal my nie weer sien nie. Ek verkies vars brownies uit skoonma se oond.  Ek verkies selfgebroude bredies met vars markgroente. Ek verkies tannie Barbara se kaaskoek en Norma se quiche.

 Tuisgebak bly koning.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep