Tee en swaarkry

Ek staan anderdagmôre heel onvergenoegd op oor die koue weer wat nie wil wyk nie. Die koue laat my Afrikaanse tong boonop net nóg meer Afrikaans klink.

 Bruin voorskootjie om die middel begin my dag dus nie te waffers nie. Teen teetyd kom ‘n interessante groepie van drie Frothy’s binne. Die vrou se hare hang onversorgde slierte in haar oë en die rooi truitjie by haar swart sweetpakbroek, is ook al baie seisoene deur. Die twee manne saam met haar het ook albei sweetpakbroeke aan. Dis nie sweetpakbroeke met naamtekkies vir ‘n sportiewe voorkoms nie.

 Dis sweetpakbroeke met kerkskoene.

 Die groepie is egter die ene vriendelikheid. Dit wil voorkom asof hulle jare laas by ‘n koffieplekkie was. Hulle wil-wil amper uitbundig lyk oor hierdie teedrink geleentheid. Die een mannetjie is plomp en die ander een is lank en maer. Die plomp enetjie kom bestel by die toonbank. “I’ve got money today,” kondig hy amper trots aan voor hy bestel.  Hulle sal ‘n pot tee vir twee neem asseblief. Ons moet net asseblief drie koppies bring. Hulle drie sal sommer die tee tussen hulle drie verdeel.

 Dan wil hulle ook ‘n “toasted teacake” hê, dankie. (‘n “toasted teacake is deel van die Engelse teetafel. Dit is amper ‘n soet “bun” met rosyntjies daarin.) Maar ook vir die een “tea cake” soek hulle drie bordjies. Hulle wil deel.

 Ek besluit dat ek hierdie groepie vandag sterbehandeling sal gee.  Hierdie teedrink moet een wees wat hulle sal onthou. Ek neem die stapeltjie bordjies na hul tafel. Dan die teepot met teekoppies. Al drie lyk so in hul skik dat dat ek eintlik aardig voel. Ek neem die warm “toasted teacake” ook oor na hul tafel. “May we have some jam with it?” wil die plomp enetjie versigtig weet.

 Ek bring ‘n ekstra groot bakkie met lekker aarbeikonfyt na hul tafel. Dan begin ‘n feesmaal tussen die drie met hul een “toasted teacake” en “pot of tea for two.”Die prentjie wil-wil my herinner aan Jesus se brode en vissies en hoe min baie kan raak.

 Hulle stap ‘n uur later uit, selfs nog vroliker as met die inkomslag. Ek moet eers wegglip toilet toe om te gaan skaam wees op ‘n ander plek. ..

 Plaas van dankbaar wees oor jou oorvloed, staar jy jou mos so dikwels eerder  vas teen die klein bietjie wat jy nie het nie!




Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep