Padkos en bottelkoffie

Vir my man se 30ste verjaarsdag pak ons piekniekmandjie en kies koers kus toe. Engelandse kus. Ek staan vroegoggend al op om ons blou “coolbag” en koffiebottel gereed te kry vir die uitstappie.


 Na manlief se oggendkoffie en stukkie beskuit is ons gereed vir in die pad val. Ons is albei kinderlik opgewonde. Volgens ons nuwe Tom Tom, Carike, sal dit ons net 90min duur om ons bestemming te bereik.

 Ons besluit egter dat ons steeds halfpad ‘n koffiestop sal maak – mens moet tog halfpad seetoe stop vir koffie, ongeag hoe naby halfpad is. Ons halfpad stop is by ‘n vulstasie, voor ‘n onderklere winkel. Manlief sit vir Nico Nel op vir bietjie vermaak terwyl ons behaaglik teug aan ons suikersoet padkoffies.


 Dan val ons in die pad vir die laaste stukkie seetoe – terwyl Nico vertel van die vis wat moes leer oorleef in die Namakwaland. Die vis was later so goed aangepas dat hy saam met die honde op die werf gespeel het en saans saam met die skaaphond biltong voor die stoof lê en eet het!

 By Hunstanton aangekom volg ons dadelik die bordjies see se rigting. Ons wil mos piekniek langs die see – in ons motor. Dis te koud vir buitewees!!! Ek pak die piekniekmandjie uit voordat ons begin om vir ons broodjies te “bou” in ons helderkleurige plastiekbakkies. Lambrecht se broodjie is ampertjies koffieplekmooi. Ons eet totdat ons nie meer kan nie.


 Iewers gedurende die ete beduie ek dat Lambrecht die ruit moet afdraai. Hoewel ons nie die see kan sien nie, sal ek dit darem steeds baie graag wil hoor. My man lag vir my. Mens hoor nie die see in Engeland nie, verduidelik hy. Die see is net sulke flou kabbeltjies op die water. Dis meer soos ‘n groot dam. Ek kan nie help om so klein bietjie teleurgesteld te wees nie.

 Na ete dring ek op ‘n stappie langs die strand aan. Dis vrek koud. Almal is gebaadjie en geserp. Ek voel dat ek duidelik nie goed genoeg gepantser is teen die koue nie. Maar wat ‘n belewenis is dit nie om langs ‘n see te stap wat nie mooi blou met tamaai branders is nie. Dis vreemd anders om op ‘n strand te stap waar daar nie eintlik skulpe of bloublasies of ander uitspoel seegoed is nie. Dis anders, maar dis goed. Nou kan ek ook spog dat ek op ‘n Engelandse strand was.

 Maar na die see luister en skulpies en seeklippies optel…die sal ek maar eerder op die mooie Strandfontein net anderkant Vredendal gaan doen!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep