My eerste sneeu in Engeland

Ek het nooit geweet ek sal enige iets beleef wat na aan reën in die Boesmanland  kom nie. Ek het nou. Gisteraand om 17h00 het die aarde stilgeraak – soos voor die eerste druppels op die sinkdak van ons Makkiesplaashuis. Alles was doodstil. Jy kon die gevoel van afwagting aanvoel…
 En toe begin val die eerste spierwit sneeuvlokkies uit die hemel. Die mooi wil jou byna-byna hartseer maak. Dit waai geluidloos soos wit duifveertjies af grond toe. Die koue wat natuurlik hiermee gepaardgaan is ‘n anderster koud as ‘n wintersoggend op Makkieplaas as die ryp spierwit op die gras lê en die waterkrippe is vasgevries. Dis ook anderster koud as ‘n winters  Maandagoggend in jou skoolklere in Kakamas se hoërskoolbanke. Destyds het ek gedink kouse in die winter by jou skoolrompie  is die koudste iets wat met jou kan gebeur. Nou weet ek beter .

 Ons was gisteraand in ons mooiste, warmsste partytjieklere oppad na Bernie en Lambrecht se 30ste verjaasrdagpartytjie, toe die sneeu begin val. Ek en Lezanne beplan al maande aan hierdie dans in Engeland. Van die spyskaart, tot die musiek is in die fynste besonderhede beplan en uitgevoer.

 Soos dit ‘n Suid-Afrikaanse partytjie betaam, was die kos meer as wat ons gaste kon hanteer. Daar was van tuisgebakte brood in ouma Gerrie se panne (Ek leen dit by my Pofadder Marietjie-sussie), tot skoonma se verruklike “brownies” en Lezanne se immergewilde dadelbolletjies en pizzatjies.

 Die saaltjie is geboek tot 24:00. Teen 23:00 het die eienaar egter versigtig kom vra of ons gaste bewus is van die hewige sneeu buite. Die aarde lê toebegrawe onder diep, gladde sneeu. Ons gaste het dit nie geweet nie. Hulle het gelangarm en geëet en gekuier. Sneeu was die minste van ons bekommernisse. Ons moes almal egter waarsku teen wat buite besig was om te gebeur.

 En so kom ons partytjie toe tot ‘n skielike einde a.g.v sneeu. Ek en Anneen besluit dat ons  nie saam met ons mans wil huistoe ry nie. Ons wil in die sneeu stap. Ons wil die sneeu voel val. Ons wil ons plaassussies vertel van stap in die sneeu om middernag. Ons het grootgeword met ver stap in die Boesmanland om hartsdinge te bespreek. Nooit sou ons daardie tyd kon raai dat die Here vir ons beplan het om iewers in die toekoms om middernag in Stamford se strate te stap en sneeufoto’s te neem nie.
                                                    Anneen in die straat voor ons huis

 Ons mans wil saamstap. Jurgens en Lambrecht is heel uitbundig in die sneeu. Hulle hou ‘n sneeu- eet kompetisie en skryf lawwe romantiese boodskappe vir my en Anneen in die sneeu, op motors.

 Terug by die huis is ons koud en nat. Ek het nooit geweet dat sneeu ook nat is nie. My man ruk iewers in die vroeë oggendure van ons whiskey en Naghtmuzik liquer uit. Ek pak van die oorskiet partytjiekos op die tafel en ons sit die kuier  voort.

 Vanoggend toe ek opstaan kyk ek heel eerste by ons kamer venster uit. Die aarde is wit. Die sprokie duur voort. Ek en Anneen drink vroegoggend koffie in die kombuis, voor die verwarmer. Ons eet van skoonma se beskuit en praat hartsgoed.

 Ek sit op hierdie oomblik voor die verwarmer in die kombuis en kyk steeds elke vyf minute by die venster uit – net om seker te maak dat die sneeu steeds daar is. Ek’s steeds betower deur die wit, al is my tone bloukoud en my keel seer.

 Ek raak dikwels moedeloos in die land waar ek myself nie kan uitdruk in Engels nie. Ek raak moedeloos omdat ek ver is van hartsvriendinne en my sussies. Ek raak teneergedruk omdat die Here my vir tyd en wyl nog  ‘n “waitress” wil hou hier in Stamford.

 Maar dan kyk ek vanmiddag by die venster uit en ek wil die Here met als in my loof en prys vir my eerste wit winter. Dis ‘n wonderlike seën om sneeu te kan ervaar. Dis ‘n voorreg om my pa plaastoe te kan bel om te verduidelik hoe sneeu is. Ek stuur aanhoudend foto’s vir my twee sussies…en hulle ervaar die sneeu saam met my. Boonop het die Here my geseën met ‘n wonderlike man, skoonouers met warm harte, my spesiale Upingtonniggie net ‘n uur se treinry van my af, en ander vriende wat regte egtig omgee.
                                                     Uit ons kamervenster
 God is goed. Hy weet altyd die beste.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep