My wonderwerk vandag

Ons sit gisteraand om Eska-hulle se groot etenstafel, ‘n handjievol Strandfontein spoelklippies wat ek met ons vakansie opgetel het, en ‘n paar kersliggies in die middel van die tafel. Almal is op moedverloor-se-vlakte.


 Dis ons bybelstudie-aand, en hoewel net die helfte van die groepie dit kon bywoon, was Eska vasbeslote: Bybelstudie moes voortgaan. Ons het mekaar nodig. Dit was my kosmaakbeurt en ek het ‘n “sweet potatoe &parsnip soup” met ‘n gedagte spek daarby gemaak. Saam met suikersoet kaneelpannekoek.

 Min son maak mens moedeloos en teneergedruk en vet, val Marcel weg. Ons almal beaam dit. ‘n Mens is net nie lus om gaaf en vriendelik te wees as als om jou donker en onvriendelik is nie. Jy’s nie lus vir geselsies aanknoop met die nors vroutjie agter die “till” nie. Jy’s nie lus vir mense oornooi en ‘n lekker mens wees nie.

 Jy’s net nie lus nie.

 Colin vertel hoe die een eiedomsagent hom vertel het dat Januarie en Februarie die heel beste tyd is om na eiendom te soek in Engeland. Dis die tyd van die jaar wanneer die meeste verhoudings/huwelike skipbreuk lei en oorbegin word op ‘n ander plekkie.

 Verhoudings lei onder ‘n tekort aan sonskyn.

 My man is stil, maar ek weet hy kry ook swaar, want ek kry swaar…Ek’s ‘n sonskynkind van Makkiesplaas. My liefde vir die son sit in vlekkies my hele gesig vol. Ek ken nie van dae en nagte van donker weer nie. Ek hou van stap en stap en stap. Mure wat my vasdruk omdat ek te koud kry vir buite wees, maak my onrustig en sommer net ongeskik!

 Vanoggend het God my net weer ‘n kykie op Sy almag kom gee.  Skuins na ek klaar ontbyt geëet het, kom val die eerste strale deur ons kombuisvenster. Die oomblik is byna heilig. Ek dink dis hoe Noag destyds moes voel. Net toe hy dag die reën gaan nooit ophou nie, stuur God daardie baie spesiale heel eerste reënboog.

God het vandag ‘n paar flou sonstraaltjies gestuur. Dis wonderwerkmooi hier op my strepiestafeldoek kombuistafel.  Ek voel soos Noag.

 Die sonstrale bring ‘n nuwe uitbundigheid in my gees. Ek besluit om vrolike “cupcakes” te bak uit my skoonma se “Hummingbird Bakery”.  Ek gaan koop eers  polkadot “cups” om hulle in te bak. Toe kom die versiering…van “hundreds and thousands” tot kersies en donkersjokolade splinters. Ek  gooi my kosbuisvenster oop voor ek die eerste koppie meel afmeet. Ek sit ook RSG aan en is betyds vir die laaste stukkie van verjaarsdagversoeke.

 Vandag gaan ek “cupcakes” bak wat ‘n spieëlbeeld is van my veerligte gemoed in my sonverligte kombuisie. As ek klaar gebak is sal ek ‘n draai gaan stap om die bietjie son op my wange te voel. En dan kry ek Engelse vriendinne oor vir koffie en sonnige Afrika “cupcakes.”

 Die son by my venster is ‘n bewys dat God weet wanneer ons nie meer kán sonder daai reënboog of sonstraal nie…

Comments

  1. Ek ken jou nie eers nie, maar jy gesels laat my tuis voel. ek is ook nie 'n kou wintersmens nie, en raak sommer lekker goor dan. Ek is bly vir jou vir die een dag son deur jou kombuisvenster, maar ek weet dat as jou kop nie meer reg was nie, sou jy die son op daai dag nie raakgesien het nie. Daardeur sê ek vir jou jy is nog oraait, jy vat die lekker van die dag vas en maak dit joune. Dankie dat ek ook kan lees. Bravina

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep