Dit was nie ‘n maklike taak om die huis uit te sorteer voor
my pa se tweede troue nie. My ma was ‘n netjiese, georganiseerde vrou. Ons huis
was net so vol. Oorvol. Ons moes huis leegmaak vir die nuwe seisoen in my pa se
lewe. Die gedagte aan ‘n “nuwe” huis was seergenoeg. Die skoonmaak en verdeel
was regtig pynlik…soos trap in ‘n duwweltjie, kaalvoet, vroegoggend.
My ma was jammer vir haar goed. Ons het op baie “skatte”
afgekom in haar linne laaie. Die kis in die sitkamer was ook vol verrassings.
Links bo, agter in my ma se klerekas was ‘n skoenboksie met briefies van ons
af. Sy het ook nog haar juwelekissie uit haar dogtertjiedae en
eekhoringspaarbussie gehad.
Daar was so baie om te verdeel. Daar was so baie wat nog
nooit gebruik is nie. Daar was die blou uitstalgoedjies en die silwerlepeltjies
met dorpe se name daarop teen die muur. My reël is…as ek dit vat, gebruik ek
dit. Nou eet ons soms, as ons gaste het, vir die pret met die silwer
lepeltjies. Dis altyd groot pret om te sien watter dorpie in jou poedingbakkie
land. Ek sal nooit opgaar nie, het ek myself oor en oor belowe tydens my ma se
huisverdeling.
Toe gebeur dit.
Elkeen van ons drie sussies het ‘n paar potte ingelegde goed
van my ma geërf. Ek kry dit nou nie oor my hart om dit oop te maak en dit te
gebruik nie. My man wou anderdag geïriteerd weet of ek die boks ingelegdes vir
die res van my lewe saam met ons gaan piekel. Ek’t net my skouers opgetrek. Ek
weet nie of ek ooit die moed sal hê om dit te laat gaan nie. My ma se hande het
nog die vye opgesny en gekook en die kwepers bewerk.
Ons kry die mooiste kombers by Retha. Self gehekel. Ek voel
te jammer daarvoor om dit te gebruik. Ons bêre dit versigtig in Amé se kas.
Wanneer gaste kom gooi ons dit belangrik oor haar babalyfie. Daar’s altyd baie
komplimente. As die gaste ry, bêre ons dit weer. Die afgelope naweek kom verras
laaste doodsnikke van die winter ons. Dit reën en die weer is sommer net
triestig. Saterdagaand lyk Amé se lyfie ewe skielik so weerloos en koud in haar
bedjie. Ek gaan haal Retha se kombers uit sy bêreplek. Dit maak die hele kamer
warm. Sondagaand gooi ons haar weer daarmee toe. Ek stuur Maandagoggend ‘n
briefie so met die lug saam na Retha om net weer dankie te sê. Haar mooi
kombers maak ons babakamer warm.
Sy stuur terug ek moet dit seblief gebruik. Goed raak mos so
lê-lê ook op. Ek kry snaaks. Dis waar. Ek vermoed die meeste van my geërfde
ingelegdes het so staan-staan opgeraak (Ek bedoel nou dit het in die boks
bederf van staan en wag om gebruik te word.)
Plaas van ek het nou maar daai laaste vytjies op my brood
gesmeer en nog vir oulaas uit Mamma se hand geëet. Want bêregoed ráák op van
gebêre-wees…
Comments
Post a Comment