Staaaadiger


Ek gaan kuier vir sewe dae knap duskant Pofadder op Millerton. Stan en Marietjie se stukkie aarde onder die son. Eintlik gaan kuier ek nie hierdie keer vir húlle, soos al die vorige kere nie. Ek gaan kuier vir fraaie klein Anmari, my sussie se eersteling. Mercia, Annemarie Miller. Die trotse draer van albei haar ouma se name.

 Marietjie is rustig. Sy kom eers soggens na nege uit die slaapkamer. Anmari is soos haar mamma, gelukkig en rustig.  Niks of niemand jaag hul aan nie.

 Ek en Amé kom ook in die plaasritme. Ek leer in hierdie sewe dae dat Amé hou van ‘n gawe oggendslapie voor teetyd. Sy hou van ‘n lang middagslapie na middagete. Sy hou daarvan om haar tone te wikkel in die oggendson. Sy hou net niks van die sokkies waarin ek haar babavoetjies elke dag so toewikkel nie! Sy hou daarvan as Marietjie-hulle se Tommie-hond haar tone lek. Sy hou daarvan om namiddae onder die boom by die voorstoep te lê en haar te vergaap aan die blare se beweging.

 Sy hou ook van hoenders en die ou boerbok in die kraal. Sy hou daarvan as oom Stan soggens met haar in die kombuis gesels. Sy hou van Lena en Patience wat in hul vreemde taal met haar kom gesels.

 Ek leer baie nuwe dinge van ons kind. Ek het die laaste paar maande baie gemis. Ek was te besig, te vinnig, te órals.

Gisteraand is ek weer by my weekliks weeg groepie. Ons moet stadiger begin leef, maan Erica ons. Stááádiger, herhaal sy haarself terwyl sy ons in die oë kyk. Ons moet stadiger kou, stadiger werk, stadiger praat, selfs stadiger seks hê, sluit sy haar vermaning giggelend af.

 Emsie vertel so lekker van haar rooswang krulkopkind. Diè het gistermiddag voor die spieël gaan staan en haar hart uitgehuil. Sy het haarself dopgehou tydens die tranedal. En toe het sy plotseling opgehou huil, die trane afgevee en aangekondig: “Kammi, beter,” en uit die kamer gestap. Karmi is ampertjies twee, maar sy ken haarself klaarblyklik goed. Sy weet wanneer sy net ‘n paar trane moet stort vir ‘n ligter gemoed.

 As ons stadiger leef, sal ons waarskynlik soos Karmi weet wanneer dit tyd is vir net so oomblik stilraak voor ons die lewe hervat. Die geheim van ‘n lang lewe is heel waarskynlik ‘n stadiger lewe!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep