Afwesigheid van Valentynsdag 2015...
My man is ‘n ewige romantikus. Daar was altyd piekniek en
blomme en allerhande verrassings met Valentynsdag. Ons het mekaar bederf en
verras. Die dag is met ‘n rooi sirkel gemerk gewees op ons kalender.
Hierdie jaar het ons twee kinders. Die jongste is ‘n maand
oud.
Ons dag van liefde is hierdie jaar ‘n reuse antiklimaks. Ons
besluit op ‘n teetyd piekniek op ons eie gras. Manlief slaan die gazebo op en
ons gooi die kombersie wat nog uit ons piekniekdae in Engeland dateer, oop. Ek
en Amé trek ons sag en vroulik in pienk aan. Ons moet darem piekniekmooi wees
vir ons teepartytjie!
Ek maak tee uit ouma Susie se sagtepienk rosie koppies. Saam
met die tee is skons met aarbeikonfyt en room en biltong. Amé drink haar tee
liefs uit ‘n blikbekertjie. ‘n Gebreekte koppie kan my dag net finaal bederf.
Daniël is heel oggend onsmaaklik, maar hy gun ons genadiglik ‘n vredevolle
45minute om te smul aan ons skons en tee. So saam met my laaste happie skon kom
Daniël se volgende hongerhuil.
Van ons middagslapie, waarna ons so uitgesien het, kom min.
Daniël is winderig en kwaai. Teen namiddag moet ons besluit oor ons aandete. Ek
het allerhande lekker bederfies gekoop vir braai. Ons kan nie uiteet nie, maar
ons kan darem vuurtjie aansteek en gesellig langs die vuur kuier. Ons kyk na
mekaar…moeg. Sal ons nie maar die braai los en sommer net pizza gaan koop nie.
Die besluit is moeilik. Ons besluit ten einde dat ons moet vuur aansteek. Vir onsself.
Ons glo en hoop dat Daniël en Amé ons ‘n vuurkuier sal gun so op Valentynsdag.
Wonder-bo-wonder is Daniël ‘n nuwe mens na hy gebad is. Ons
gooi vir Amé ‘n kombers by ons voete oop. Vir ingeval die begeerte om te slaap
haar oorweldig. Ons weet die kans daarvoor is taamlik skraal! Toe die vuurtjie
mooi brand skink Lambrecht die eerste glasie vonkelwyn. Ons sit diep en
gemaklik in ons kampstoele terwyl Amé smul aan kaaskrulle en baie flou Oros.
Die aand is stil en mooi. Ek het lankal nie meer my mooi piekniekrok aan nie.
Ek lyk oes – soos dikwels deesdae. Lambrecht ruik na vuur en letsels van boetie
se laaste wind sit op sy skouer.
Dan begin lag Lambrecht uit sy maag. Gelukkig. Voor ek kan
vra, antwoord hy. Ons lewe is mal. Dis een groot borsvoed, windvryf en doek
omruil. Snags is die slaap karig en Amé is ‘n prettige bondeltjie meisiekind
wat gedurig die grense toets. Ons kan nie glo dis nou ons lewe nie. Ondanks
alles is dit so voorreg. Twee gesonde kinders.
Na nog ‘n glasie vonkelwyn droom ons van Valentynsdag oor
tien jaar. Baie sushi en baie wyn en see. Ons gaan uitgerus wees en gefokusde
gesprekke voer. Ons gaan weer mag handjies vashou sonder dat Amé se kwaai
stemmetjie ons waarsku om dit nie te doen nie.
Valentynsdag sal weer iewers in die toekoms voel soos Valentynsdag.
So glo ons.
Comments
Post a Comment