Hannes en Tina en klein Jakob
Gisternag is dit sowaar weer so. Ek het baie deugde, maar
wind uitvryf is nie een daarvan nie. Ons boetiebaba drink sommer blistig sy
kwota melk. Dan worstel ek ten minste nog ‘n uur om so flou windjie uit sy
onvergenoegde lyfie te kry. Dalk slaan ek hom nie hard genoeg op sy ruggie nie?
Ek weet nie waar die fout lê nie. Maar 3-uur in die oggend is my tekortkoming
vir my ‘n baie groot frustrasie.
Nodeloos om te sê sien ek met my hele hart uit na my
middagslapie vandat ek vanoggend my swaar ooglede oopdwing. Ek kan sien ons Amé-kind
is ook bitter uitgeput hier teen 11-uur. Dis immers my grootste taak vanoggend:
Om Amé so moeg te maak dat sy ten minste twee ure lank slaap vanmiddag.
Ten minste
Teen 11:35 gaan lê ek met albei ons kinders. Net toe Amé
wegsak in droomland ontwaak Daniël vir sy middagkossie. Ek’s sommer baie ingenome.
Teen die tyd dat hy klaar gevoed en gewind is, het ons nog ten minste ‘n uur
plus se slaap oor saam met sussie. As ouerskap jou twee dinge moet leer, dan is
dit om nooit vooruit te beplan nie, en moet nooit te opportunisties wees nie.
Terwyl ek die stryd voer met boetie se winde, kom stap Amé
die kamer binne. Haar houding kondig beslis aan dat sy klaar geslaap is. Baie
korter as ‘n uur! Ek dreig, ek smeek, ek probeer omkoop. Niks help nie. Ek voel
later soos gaan lê en huil. Maar met twee kinders is dit ‘n luukse waarvan
enige ma maar kan vergeet.
Johanita is genadiglik vandag aan diens by ons. Ek vra in ‘n
moedelose stem of ek maar gou kan wegglip Spar toe. Sy is klaar huisskoongemaak
en bied aan om ‘n oog te gooi. Ek wil net ‘n brood en ‘n koeldrank gaan koop.
Die koeldrank is sommer net om myself te bederf. Ek wil hom opteug oppad
huistoe…in my doodstil kar by my yskoue aircon. (Wie sou kon raai dat ek iewers
in my lewe ‘n koeldrank as ‘n bederf sou sien!)
Toe loop ek vir Hannes by Spar raak. Ou skool kennis. Ek
sien hom voor hy my sien en hoop heimlik hy sien my nie ook raak nie. Ek lyk
oes. Ek weet. My gesig weet nie meer wat grimering is nie. Hannes sien my raak
en kom groet joviaal soos altyd. Ek vra uit oor hul klein Jakob wat blykbaar
nou al vyf maande oud is. Vreeslike ding het anderdag gebeur, begin hy vertel.
Hulle het vir slapende klein Jakob op die bed gesit en hom
ordentlik toe gepak met kussings. Terwyl hulle elders in die huis besig is,
hoor hulle net ‘n plofgeluid en toe die gilletjie en huil daarna. Hulle het
hulle doodgeskrik, vertel Hannes. Hulle is dadelik met klein Jakob na die
huisdokter toe. Hulle het aangedring op ‘n indiepte ondersoek. Sy moes tog
sekermaak daar’s nie enige breinskade of so nie. Die dokter het hulle blykbaar
net verbaas aangekyk en gevra of hulle dan nie weet nie. Kinders val maar so
van die bed af. Dis oraait, hulle hou geen letsels oor nie.
Dit was nou ‘n ervaring wat hulle nie gou sal vergeet nie.
Sy Tina-vroutjie het byna heel aand gehuil. Sy was so teleurgesteld in haarself
en het soos ‘n bitter slegte ma gevoel.
En so maak Hannes en Tina my dag.
Oppad huistoe giggel ek nog elke nou en dan oor Hannes en
Tina en klein Jakob. Die Here is darem wonderlik. Hy laat my vir 15 minute Spar
toe ontsnap vir ‘n koeldrank en ‘n bietjie vrede. Dan stuur hy ‘n storie oor my
pad om my gemoed weer lig te maak. Ek wou nie vanaand skryf nie. Ek wou al
8-uur in die bed wees. Maar ek’s so bang daar’s dalk iemand wat ook vanaaand
nog Hannes en Tina en Jakob se storie moes hoor voordat hulle bedtoe gaan. Lag
maak die wêreld mos ‘n beter plek.
Comments
Post a Comment