Eenvoudiger...


Ons kuier gister by ons Coetzee-familie in Somersetwes. Laataand praat ons oor hoe ons grootgemaak is. Ek bieg verskonend dat ons nie super gekultiveerd opgebring is nie. Ons ken niks van skilderye of klassieke musiek nie. Ons mure was versier deur foto’s en foto’s en nogmaals foto’s.  Die enigste skildery was die een wat oom Hendrik vir my Pa en Ma geskilder het om dankie te sê dat hulle, hul so ontferm oor sy twee kinders in die koshuis. Die skildery was vol simboliek en baie spesiaal. Dit hang steeds in ons grootwordhuis.

Ons het grootgeraak met Die Briels en Klipwerf. Ek het sushi en salmon maar eers anderdag leer eet. Van wyn wil ek nie eens praat. Daar is vandag steeds min dinge wat kom by ‘n ou hanepootjie. Maar soos my swaer gisteraand opmerk. Mens moenie ‘n eenvoudige, ongekompliseerde grootword vergelyk met gekultiveerdheid nie. Want ongekompliseerd grootword is baie kosbaar.

Vanoggend vereenvoudig ek weer my lewe. Alweer. Ons spierwit slaapkamer moet waai. Vandag nog. Ek soek beddegoed wat ek sommer oor die internet kan koop en wat nog hierdie week afgelewer kan word. Ek verstaan nou waarom my ma nie ‘n wit duvet in haar huis geduld het nie. Met twee spruite onder twee is dit ‘n onbegonne taak om vir wit duvet langer as twee dae witskoon te hou. En ons feetjie kom net een maal ‘n week in. Vir die grootste deel van elke week word ek dus tot in my wese gegrief deur ‘n wit duvet wat nie wit is nie.

Kosblik pak neem my saans onnodig lank. Ek pak elke liewe aand drie kosblikke: vir manlief, myself en Amé. As ek nie ons middagkos die vorige aand pak nie, sal ek en ons dogtertjiekind smiddae sonder kos moet bly. My hande is te min. Elke aand se broodjies neem tyd, want dis eiermayonnaise broodjies, met ietsie lekkers vir langs die broodjie, en, en, en. Dit vat TYD. Daarna die skottelgoed. As ek rondom nege op die bank neerplons vir die eerste keer die dag, het ek niks vir manlief te sê nie. Ek’s gedreineer. Nie lus vir liefdevol of eens ordentlik wees nie. Ek wil stilwees in my kop.

Ons vind ‘n oplossing. Of hy doen. Hy gee nie om vir droë provitas en Melrose kasies en tamatietjies ens. in sy blikkie nie. Dis maklik en skottelgoedvry. Hy ruil ‘n luukse kosblik vir gesels en ‘n bietjie liefde saans.

Ek maak lysies in my dagboek. Vir makliker en vinniger. Dis die pad vorentoe vir die Wellington-Coetzees. Soms kan jy nie noodwendig doen wat jy wil doen nie. Jy doen wat jy moet doen. Vir nou. Dis hoe ek grootgeraak het. Soms vergeet mens net ‘n bietjie…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep