My nuutste gunsteling uithangplek met ons twee kinders is Wimpy in Wellington. Dis nuut oorgedoen en het die lekkerste speelplek vir die kindertjies. Amé is dus in die wolke as ons voor Wimpy stop. Die ambience welgeval Daniël beslis ook, want hy slaap soos ‘n klip in Wimpy.

Anderdag maak ons weer so. Ek bestel ‘n ekstra groot koffie vir myself en ‘n vanillageur melkskommel vir Amé. My skoonsus beweer vanilla het darem so raps minder kleur en geurmiddels daarin. Daarom dat ons maar altyd vanilla doen. Amé se taalgebruik is genadiglik ook nog nie van so aard dat sy met my kan redeneer oor die kleur van haar melkskommel nie.

Ek weet dit kom nog.

Sy glip dadelik weg speelarea toe en ek kan nie wag om die dag se Burger onder oë te kry nie. Langs my kom sit ‘n verdagte man en sy seun. Met verdag bedoel ek bloot dat indien hy agter my in die straat sou stap, ek my handsak baie styf onder my arm sou vasknyp. Soos my ma my mos geleer het. Vir ingeval hy beplan om dit te gryp.

Die seun is rondom sewe. Hy gaan speel ook dadelik. Die man bestel net ‘n kiddiesmeal. Dis ‘n hamburger met chips en ‘n cream soda. Dan raak hy vreeslik besig met sy foon. Toe die kos arriveer, gaan roep hy sy kind. Ek kan hoor hoe die seuntjie vra, “Maar het Pa dan niks vir Pa bestel nie.” Ek hoor hoe die pa antwoord dat hy nie honger is nie. En ek is oortuig dat die pa nie die waarheid praat nie.

Op daardie oomblik voel ek so skuldig oor my slegte gedagtes vroeër. En my hart wil huil vir die trotse pa wat sy kind Wimpy toe bring en met sy laaste geld ‘n Wimpy kiddiesmeal koop. Die kind het skaars begin eet, of ek hoor hom sê dat hy nie só honger is nie. Die pa moet vir hom ‘n stuk van die burger afsny.

So gaan leer ek my lessie vir die dag in Wellington se Wimpy. Ek hou sommer op om die Burger te lees en doen bietjie voorraadopname in my eie lewe. Oordeel is lelik, lelik, lelik. Ons almal wil die beste vir ons kinders hê. Al lyk ons almal se beste nie dieselfde nie. Uit die bietjie wat jy dalk het is daar altyd genoem om weg te gee of te deel. As jy baie het kan jy nog soveel te meer ‘n verskil maak in ‘n klomp mense se lewens!

So moet mens net nooit uit die oog verloor waarom ons règtig hier op aarde is nie. Al is dit net vir ‘n baie kort tydjie.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep