Marietjie se yskas


Dis regtig een van my gunsteling bestemmings. Ek kan myself binne die ruimte verloor en verstom in een asem. Dit bly ‘n avontuur.

My Marietjie-sussie se yskas…

Marietjie is ‘n baie geordende en flukse vroutjie, moet ek ter verdediging begin. Haar yskas getuig van haar deugsaamheid. Daar is eenvoudig ‘n ietsie van alles, órals. Boonste rak is oopgemaakte gebotteldes. Daar is ‘n skraps van tannie Marinda se kerrieperses onderin ‘n groot bottel. Dan is daar ‘n klomp klein halwe botteltjies – dis nou appelkooskonfyt, vyekonfyt en kweperkonfyt onder andere. Almal is nie konfyteters nie. Maar Marietjie is. Haar snytjie boerbrood saans word mooitjies halveer. Die een helfte kry altyd botter, ‘n teelepel konfyt en ‘n bietjie kaas op. Die ander helfte wissel – soms kaiings, ander aande stukkies biltong of soms eenvoudig botter met Bovril. Daar is gewoonlik ook gebottelde beet en gebottelde koperpenniewortelslaai op daai boonste rak.

Die middelste rakke van Marietjie en Stan se yskas is baie opwindend. Dit kan wissel van die vorige dag se oorskiet, tot ‘n week gelede se oorskiet. Marietjie mors nie met kos nie. Soms ontdek sy ‘n weekoue stukkie boerewors in ‘n bakkie, so perongeluk. Dan is hul Tommie-hond te dankbaar vir die gelukkie na sy kant. Kanse is baie goed dat jy ‘n soete verleiding in een van daardie bakkies sal ontdek. As dit nie sjokoladekoek van die vorige naweek is nie, sal dit tert of kolwyntjies van een of ander skou of basaar wees. Op Pofadder gebeur daar altyd iets! En daar is altyd kos.

Marietjie se bakkies oorskiet is heeltemal anders as my oorskiet. Dis ‘n bakkie met oorskiet soet perskes, of uitgebraaide kaiings. Dis ‘n blokkie skenkelpastei of oondribbetjie. Dis ‘n paar frikkedelletjies of skeppie soetpatats. Dis hemelse huiskos!

Die onderste rak is die groente, vrugte en Coke bottels met Sarien-hulle se ongelooflike lekker koeimelk daarin. Ek drink bekers en bekers koffie op Millerton. Agter die melk aan. Jy sal sowaar nie nog sulke lekker koffie iewers kry nie, te danke aan die règte melk! Daar is ook dikwels die mooiste kwepers of vye of lemoene van die bure.

Die yskasdeur is ‘n ander storie. Daar is altyd water en sjokolade in die deur. Dis normaalweg ‘n “slab” waarvan daar reeds ‘n paar blokkies weg is. Dan is daar ook doseermiddel vir skape en medisyne vir Anmari. Jy sal ook iewers ‘n boks sap vind, wat al weke daar staan. Marietjie-hulle is nie groot koeldrankdrinkers nie. Om een of ander rede is daar ook altyd ‘n sakkie ongesnyde biltong in die deur. Ek het nog nooit daaraan gedink om te vra waarom dit in die deur is nie. Die res kan ek nie onthou nie. Die deurspasie is nogal gewoonlik taamlik vol.

Ek’s mal daaroor om hul yskas oop te pluk en net so bietjie te kyk nie. Dis seker heeltemal te verstane. Ek hoop nie ou Rietjies gee te veel om dat ek so uit die yskas praat nie…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep