'Nice Sondag Strand roomys
Sondagnamiddag is die perfekte herfsdag. Ons besluit baie
impulsief om Strand toe te ry vir roomys. Die Strand het maar selde die perfekte
stranddae. Maar dit het wel die perfekte roomyswinkel. Ons het ‘n spesifieke
een, ‘Nice’, wat ons graag ondersteun.
Die geluk is aan ons kant. Ons kry parkeerplek sommer
klipgooi van die roomyswinkeltjie. Dit neem my, soos gewoonlik, ‘n rukkie om op
‘n roomys te besluit. Selfs toe Lambrect al ‘n rukkie in die ry staan, probeer
roep ek subtiel van buite die winkel na my man binne. Ek’t van plan verander.
Nie meer vanilla met karamelsjokolade rondom nie. Ek soek nou eerder “rum and
raison” op ‘n “sugar cone.” Aan die mense wat verbaas na die verwarde mamma met
die twee kinders in stootkarretjies staar, steur ek my min.
En dan gebeur die onvoorspelbare.
‘n Knalrooi Uno kom stop langs die winkel. Op ‘n geel
streep. Die karretjie se vrag is swaar. Die passasiers sit op mekaar se skote.
Net enetjie klim uit. Dis ‘n lenige, goedgeboude meisie. Ek kan oor haar bou
skryf, want sy was skraps geklee in net onderklere. Ek reken dit moes dien as
swemklere. Die broekie in ‘n skokwekkende pers, met ‘n pienk bra wat verseker
‘n nommertjie te klein is. Sy val ook in die ry in. Die mense rondom haar lyk
ongemaklik. Haar vriende uit die kar gil hul bestellings uit die kar.
Die volgende oomblik stap vier verdagte mans op haar af.
Hulle skree iets op haar. Dan vlieg haar maters uit die Uno en kom skree saam
in die groep. Hulle stamp mekaar rond en praat iets van “gangs.” Ek lui af dat
die een groep van die Strand is en die ander groep van Elsiesrivier. Dit raak
heftig.
Dit gebeur egter als so vinnig. Die gestampery is so na aan
my en die twee kinders, dat die een op ‘n stadium teen ons Daniël-kind se
stootkarretjie struikel. Ek voel letterlik hoe my keel toetrek. Ek probeer trek
Lambrecht se aandag in die winkel, maar hy is eenvoudig te diep in die winkel.
Nou worstel ek om die twee karretjies net weg van die stampende spul lywe te
kry. Hulle praat ook lelik. Baie lelik. Onder die rok in lelik.
Lambrecht kom oomblikke later niksvermoedend uit die winkel
met ons drie se roomyse. Ek beduie haastig dat ons moet loop. Ek is so bang hy
raak in ‘n redenasie met die groepie betrokke. En dit sou sekerlik gevaarlik
wees.
Dis die eerste keer dat ek so dag in die Strand beleef.
Nader aan perfek sal jy ver loop soek. Oral is mense op die strand. Almal is in
‘n vrolike luim. Ons roomyse is voortreflik. Die oomblik is so mooi dat mens
tyd net ‘n oomblik wil stop.
Oppad huistoe herkou ek aan die gebeurtenis van vroeër. My
hart voel seer, identifiseer ek die vreemde gevoel. Ons kan gevaarlike plekke
vermy en ons sekuriteit opskerp. Ons kan ons krag vervang met sonpanele,
gasstowe en sonkrag verwarming. Ons kan ons kinders in duur privaatskole sit.
Ons kan ons bes doen om ‘n goeie lewe hier in Suid-Afrika te maak. Tog is daar
iewers jongmense wat nie skoolgaan nie, wat tik en aan “gangs” behoort. Iewers
is daar jongmense wat nooit leer dat dit onaanvaarbaar is om so lelik te praat
nie. Iewers is daar jongmense wat nooit hoor dat iemand hulle liefhet nie, wat
nooit ‘n goeie opvoeding ontvang nie en wat nie eens weet hóé dit is om ‘n
visie te hê nie.
Dít maak my ontsettend hartseer.
Hoe draai jy die gety? Wat is elkeen van ons se rol te speel
in hierdie hoofstuk en waar begin jy? Ek weet regtig nie. Dalk is dit belangrik
om te wíl deel wees van die verandering. Dalk is dit die begin…
Comments
Post a Comment