Die Storie van Basie van Brandvlei


Dinsdag agtermiddag kom stap ou Basie op Makkiesplaas aan. Hy lyk gedaan gestap. Sy enigste besitting is ‘n groen Checkerssak in die hand. Die somtotaal van sy aardse goed. “Middag Baas, ek’s Basie,” groet hy my pa vriendelik. Hy soek asseblief net ‘n dak oor sy kop vir die nag. En ‘n geleentheid Kakamas toe asseblief. Hy kom stap al van Brandvlei af, en hy’s eintlik oppad Upington toe vir sy ID. Van Makkiesplaas af is Upington nog so 220km se stap!

Hy’t ‘n baas langs die pad gekry met ‘n donkerbril, en diè het gesê hy sal waarskynlik van Makkiesplaas af ‘n geleentheid kry Kakamas toe.

My pa het ‘n ongelooflike mooi hart.  Hy gee vir Basie vleiskos vir die aand en sê hy moet vir Albertus gaan vra vir ‘n lêplek in sy huis. Volgende môre meld Basie aan. Hy kan darem uithelp op die werf tot sy geleentheid dorptoe loop. My pa laat hom maar akkers spit en tuin werk so vir die dag.

Later die dag help hy my pa by die stoor. Sommer so uit die bloute wil hy weet of hy dan nie die baas ‘n bietjie “hand kan gee nie.” My pa verstaan aanvanklik nie. Dan snap hy later dat ou Basie eintlik vra na ‘n werkie na hy nou sy ID in Upington gekry het. My pa wil weet of hy bakkie kan ry. Dan frons Basie soos iemand wat nie verstaan nie en antwoord, “Nee Baas, maar ek wil maar eintlik net ‘n handjie kom gee hier op die plaas.”

Woensdagnamiddag is daar vir Basie sy geleentheid dorptoe. Tannie Marinda pak vir Basie ‘n dadelbroodjie en weer vleiskos vir sy vertrek. My pa roep hom stoep toe om hom te betaal vir sy dag se arbeid. My pa se hart voel so jammer dat hy maar ‘n ietsie ekstra bysit.

My pa sê Basie maak sy hande so bymekaar bak om die geld te ontvang en dan sê hy so uit sy hart – “Ai jinne, dankie my baas.”

‘n Soort dankbaar wat my pa lanklaas gesien het.

My pa sê Basie is dorptoe met twee Checkerssakke. Een is sy kleregoed en een is kosgoed. Hy’t so klein en verwese gelyk agter in die wit Toyota Dubbelcab kappie. En hy het vir lank nog gewaai toe die bakkie wegry.

Toe huil ek. Waar sal Basie nou gisteraand slaap, wil ek by my pa weet. Hy weet ook nie. Hy kry Basie eenvoudig nie uit sy kop nie. Ek huil nie gisteraand net oor Basie nie. Ek huil oor ál die Basies daarbuite. Ek huil ook oor ons wat te veel het. Of nooit genoeg het nie. Wat nie besef hoe bevoorreg ons is nie.

Gisteraand bid ek dat die Here engele oor Basie se pad sal stuur. Iemand wat hom sal aanstel vir tuinwerk. En dan sal sorg dat hy elke dag ‘n broodjie en beker koffie kry.  Mag ek nooit die Basies wat oor my pad gestuur word, honger wegstuur nie…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep