Poer-poer op Pringlebaai


Sondag gaan stap ek vir oulaas ‘n draai met Daniël in Pringlebaai. Ons stap ons vas teen ‘n effekleur huis, naaste aan die strand. In netjiese letters staan die huis se naam voor naby die deur: Poer-poer. Ek hou dadellik sommer baie van die naam. Want dis van te min poer-poer dat ons deesdae uitbrand.

Ons het die naweek gaan poer-poer saam met vriende by Pringlebaai. Vier paartjies met sewe kinders tussen ons. Jané was die oudste (5) en Daniël (8 maande) die jongste.

Ons arriveer Vrydagaand heel laaste. Almal help ons afpak en intrek en voor jy kan sê “Pringlebaai” sit ons met ‘n glasie wyn by ‘n vuurtjie. Yolande se ouers se huis is massief. Dis van daardie huise waarby jy verbystap as jy met vakansie is, en dan effe afgunstig wonder aan wie dit behoort. Omdat ons so laat arriveer, is die atmosfeer al pure vakansieluim. Die musiek speel luid en die mans bespreek hoe hulle iemand sal stuit wat hulle in hul huis kom aanval. Ryno het ‘n haarfyn uitgewerkte plan. Hy herhaal dit ‘n paar maal in die fynste besonderhede. Ek kan sien hy raak later effe opgewerk omdat niemand vreeslik opgewonde raak oor sy plan nie.

Teen 23:30 besef ons eers hoe laat dit is en dat ons nog nie geëet het nie. Aandete raak ‘n uitdaging. Ons Amé-kind weier om te gaan slaap. Teen hierdie tyd is sy erg onsmaaklik. Liewe klein Lisa onwaak uit haar lekker slaap en dring daarop aan om eerder verder by Isla te slaap. Dorien gryp in, maar sy is glad nie dik van die lag dat haar ete so ontsier word nie. Ons wag immers almal nou al lank vir etenstyd!

Saterdagoggend dring die mans sommer al vroeg daarop aan om die Burger te gaan koop. Die vorige aand se houtkoper het hulle vertel van die jong talent agter die till in Pringlebaai se kafee. Al die kindertjies wil (ongelukkig) saam. Die span super opgewonde kinders vaar die kafee binne. Almal gil iets anders wat hulle graag wil hê. Die arme pappas kry nie eens kans om till se rigting te kyk nie. Die twee Wiesetjies staan eerste weer buite saam met pappa Jaco. Hy het net ‘n bottel Coke gekoop. “Sjoe, julle is darem mooi soet Jané,” komplimenteer ek hulle op hul wilskrag. “Ons het nie iets gekry nie tannie, want ons het niks règtig nodig nie,” antwoord sy baie wys vir ‘n 5-jarige.

Die res van die dag doen ons niks anders as poer-poer. Ons sou hotdogs eet vir middagete, maar Ryno oortuig Yolande dat niemand regtig só honger is nie. Almal help hulself uit die lekkergoed-en chipslaai en niemand is ooit regtig honger nie.

Saterdagaand staan Jacques aan stuur van kossake. So ernstig is hy oor die spyskaart, dat hy Kleinmond toe ry vir ryp avokados. Die sak avokados wat Wineta vir die naweek gekoop het, is van daardie fênsie outjies by Woollies wat jy koop en tuis eers ryp maak. En hulle het nog baie dae se lê by die huis nodig. Jacques maak Meksikaans uit die boonste rakke vir Saterdagaand. Ons eet soos (Meksikaanse) konings.

Dan bied Jaco en Wineta aan om die dom pedro’s vir nagereg te hanteer. Ons drink dit in gróót glase en Jaco laat loop met die Amarula. Ryno maak die som dat een Pringlebaai dom pedro sowat twee Spur dom pedro’s is. Ons elke sluk dus R80 se dom pedro met ‘n glimlag af.

Maar toe voel ons goor. Geëet en gedrink. Ons kruip almal eers weer so skuins na 01:00 in.

Sondagoggend na ons stappie ry ons huistoe. Ons is broos van poer-poer en lekker lag, eet en ligsinnig wees tot ou nag. Poer-poer is so nodig. Mag jy genoeg tyd maak vir poer-poer hierdie lente! En cheers op vriende saam met wie mens kan poer-poer en 30 Seconds speel en baie lag.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep