Ek onthou World Cup 1995


Ek hoop nou nie ek jok vanaand nie. Ek vertel hom maar soos ek hom onthou. Ek was immers toe std.2. Dis 20 jaar gelede. Môre se wedstryd herinner so aan dáái wedstryd.

24 Junie 1995, Ellispark, Johannesburg.

Lambrecht onthou hulle het daardie wedstryd by Oom Daantjie en tannie Elsa in Augrabies gaan kyk. Daar was baie mense daardie dag. En hulle was báie bly na die tyd. Ons het daardie wedstryd by oom Willemse en tannie Sussie gaan kyk. Hulle het van die beste televisie opvangs in die omgewing gehad. Daar was ook daardie aand baie mense.

Ek onthou die spanning in die atmosfeer. Ek onthou Nelson Mandela in sy springboktrui. Ek onthou die HK.  Die hoendervleis met Joel Stransky se skepskop. Die vreugde daarna. Ek onthou die pastei wat tannie Sussie gemaak het waarop “Bokke” in pasteideeg geskryf was.

Ons land kon bars van nasietrots. The Springboks triumphing over the All Blacks in the 1995 Rugby World Cup final was one of the Country’s finest moments.(eNCA)

Huisgenoot het die een in diepte storie na die ander oor Jonah Lomu gedoen. Sy brute krag het die wêreld aangegryp. Joost van der Westhuizen het ook die verbeelding aangegryp. Hy het Jonah ‘n heel paar keer aarde toe gebring. Letterlik.  Vir maande daarna was ons Barbies se mans se name altyd Francois of Joost. Veral Joost.

Môreaand kyk ons weer. Ons droom van 'n skouspelagtige wedstryd. Buurman Ryno reken dit moet 'n wen in die laaste minuut van die wedstryd wees. Dit moet seer maak. Vet weet, al stel hulle soms teleur, al maak hulle ons soms kwaad en hartseer, ons is lief vir die bokke. Hulle is soos eie familie.

En bloed bly maar dikker as water.

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep