Ouers se edel taak
Gister spartel ek paniekerig om die kinders betyds gereed te
kry vir ‘n koffie afspraak in die Paarl. Ek moet Amé smeek om haar pienk
plakkies aan te trek. Dan die lang redenasie waarom al haar poppe nie kan
saamgaan nie. Laastens kos dit mooipraat dat sy haar dummie en bersie in die
kamer moet gaan los.
En toe weier ons Great Dane, Klara, om uit te gaan. Deesdae
is haar gunstelingplek in ons huis die hoekie in die leefarea. Dit kos my ten
einde om haar met my pienk huisplakkie
te dreig voordat sy uitgaan. Vanoggend hoor ek Amé redeneer met Klara. Toe ek
gaan kyk staan Amé pienk plakkie in die hand, besig om Klara te dreig.
Sy beduie en klink net soos ek gister. Die stemmetjie net so
kwaai.
Sondag bevind ek my in die “toddler room” van ons kerk. Dis
‘n baie groot kerkkonferensie en daar is mense van oraloor. Dit voel asof daar
duisende kindertjies in die “toddler room” is. Op ‘n stadium is dit asof die
wêreld net vir ‘n oomblik stilstaan. Ek kyk en sien die mammas asof vir die
eerste keer raak. Byna alle mammas is in praktiese denims. Plat skoene. Minimum
grimering. Baie van die mammas is besig om saam met hulle kleuters te knibbel
aan kleuterkosblik kos. Baie staan en wip ritmies met ‘n baba op die heup
terwyl die boetie of sussie (kleuter) baie energiek verken en beproef.
Baie van die mammas lyk moeg. Mammas met kleuters lyk
dikwels moeg! Ek kyk die kleuters se houdings en maniertjies. Elkeen is ‘n
afdruk van die mamma en pappa. Ek weet dit. Ons kleuters verklap skrikwekkend
baie van ons.
Anderdag speel Amé en die bure se kinders in die tuin
huis-huis. Ek hou hulle ongesiens dop. Isla is die mamma en Liam is nomineer tot
pappa. Ek hoor hoe “mamma” vir “pappa” sê – “Steek daar vir ons ‘n vuurtjie aan
dat ons ‘n vleisie kan braai.” Ek hoor my buurvrou. Ons is ons kinders se
grootste heroes. Ons vergeet dit soms.
Ons verantwoordelikheid is so ontsagtelik groot. Ouerwees is
‘n nederige taak. Jy raak leeg van elke stukkie selfsug. Jy leer verstaan
“genade.” Dis absoluut al wat jou soms deur ‘n dag kry. Stormie Omartian skryf
so mooi: “Om ‘n volmaakte ouer te wees is nie belangrik nie. Wel om ‘n biddende
ouer te wees.”
Mag ons, ons roeping as ouers om godvresende kinders groot
te maak, nooit gering skat nie. Mag ons harder bid om minder moeg en meer
geduldig te wees tydens hierdie taak. En mag ons nooit ophou bid dat Jesus ons
elke dag sal verander om meer na Sy beeld te wees nie.
Minder pienkplakkie woede…meer Jesusliefde!
Wie reg doen en eerlik lewe,
met sy kinders gaan dit goed. -Spr.20:7-
Comments
Post a Comment