My geheime liefdesverhouding


Ek het ‘n geheime liefdesverhouding. Byna niemand weet nie. En niemand sal dit beslis van my vermoed nie. Ek wat meestal vaal en versigtig voorkom. Ek wat my weg deur die lewe baan met ‘n kind op die heup en een aan die hand.

My ongesonde, ongewone en geheimsinnige liefdesverhouding is met lipstiffies. Jy het my waarskynlik nog nooit eers met kleur op die lippe gesien nie, en kan daarom nie glo wat jy nou hier lees nie.

My eerste lipstif was ‘n peperduur, baie uitspattige pienk lipstif uit Kakamas Apteek. Dit was so lang maer Yardly nommertjie wat so geblink het op jou lippe. Ek was verlief. Ek moes baie weke se sakgeld spaar vir daardie lipstif. Ek was hoërskool en het dit seker hoogstens twee maal gedra na sokkies. Dit was my heel eerste.

Daarna was daar nog tientalle sulke kopies – van goedkoop uitverkoping nommertjies, tot heelwat duurder, weldeurdagte kopies. Nooit dra ek dit meer as so 5 keer nie. Dan is ek en my lipstif uitgekuier. Alle kleur lyk mooi in hul houertjies. Selfs op ander mense se lippe lyk dit ongelooflik. Ek het al twee of drie lipstiffies in presies dieselfde skakering as Wilma of Yolande gekoop. Dan lyk dit absoluut stunning op hul lippe. Maar dit werk net nie op myne nie. Ek lyk net nooit ook so stunning nie.

Op hierdie stadium het ek ‘n verleidelike pienkrooi van Body Shop, ‘n knalrooi van Dischem, ‘n subtiele lieflike pienk oranje van Mac, ‘n belaglike blink pienk van R5 Shop en dan my gunsteling…my Mac lipgloss (verjaarsdagpersent van Yolande af.) Dis net ‘n neutrale gloss. Van al my reënboogkleuere, my absolute gunsteling.

Ek het eers laasweek besef dit grens aan ‘n obsessie. Ek koop nooit meer tydskrifte nie, maar die nuutste Sarie, met gratis lipstif, trek my aan soos ‘n magneet. Ek koop dit sonder om twee maal te dink. By die huis staan die pienk, wat ek self uitgekies het, my glad nie aan nie. En ek voeg nog ‘n aaklige pienk by my versameling.

Nou is die aap uit die mou. Ek’t ‘n ding vir ‘n lipstif…

If you’re sad, add more lipstick and attack. –Coco Chanel-

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep