Yzerfontein kamp met kinders


Ons is sopas terug van ons eerste kamp mèt kinders. Dit was net een nag, maar ek is onbeskryflik trots op ons. Kamp met kinders is nie vir sissies nie.

Goeie vriende, die Loftusse, nooi ons al laasjaar vir hierdie een nag kamp. Ek is baie skepties. Ons jongste is ‘n slegte slaper. Kamp “mure” is nie klankdig nie. Ons oudste kan ‘n lieflike dogtertjie wees, maar sy kan ook kwaai en onsmaaklik raak as sy moeg is. Ons hou van die vriende – ons wil nie graag hê ‘n kampnaweek moet ‘n goeie vriendskap kelder nie.

Manlief verseker my dis die regte ding om te doen. Dis hoe ons dan in Yzerfontein se karavaanpark opeindig gisteroggend. Neels en Frankie is toegerus met van daardie oulike kampwaentjies en allerhande ander nuttige kampgoeters. Die Coetzees kamp erg basies: Tent, gazebo, kamptafeltjie. Dis in ons geval werklik gerieflik om saammet hardebaard kampers te kamp!

Ons oudstes is ware kampers. Josua(4) en Amé(2) maak ‘n gedugte span. Josua stap orals voor en Amé volg soos sy skaduwee. Kort voor lank bring Josua die eerste maatjie tent toe. Klein Karel. Die jongstes (albei 1) kan hul geluk nie glo met alle sand nie. Hulle bly vuil. Vuil en aan die eet. Veral onse Daniël is lief vir kos. John is beslis die rustigste van die vier hierdie naweek. Die opwinding is so groot dat hulle uitmis op hul noodsaaklike middagslapies. Ek en Frankie moet ‘n draai gaan ry om hulle in droomland te kry.

Die pienk bababadjie, wat anderdag so byna uitgesmyt is, dien as heerlike plasplek vir die kinders. Later bad ons sommer die kinders daarin en nog later, dien dit as skottelgoed “wasbak”. Ons bure aan die een kant is ernstige kampers. Van die ooms is laataand steeds kaalbolyf, ten spyte van die koel seeluggie. Die een tannie sit in haar bikini toppie en ‘n kortbroek. By tye pomp die Afrikaanse musiek. Hulle gesprek raak taamlik heftig oor klas. Jy weet, hoe klas maar net nie gekoop kan word nie, en hoe party mense net nie klas het nie. Ons anderkant se bure arriveer eers laat. Dis ‘n pappa en mamma en twee dogters. Ons raai dis stadsmense. Hulle slaan ‘n kleinerige tent op. Hulle fliek heelaand en eet toebroodjies in hul tent. Ons mans bied hulle kole van ons braaiplek af aan omdat hulle eers so laat arriveer het. Hulle sê nee dankie vir ons gesellige kampkole.

Ons kinders raak uiteindelik genadiglik aan die slaap ten spyte van alle vreemde kampgeluide.

Vanoggend staan ons sonnige oudste met verkeerde voet op. Haar eerste onvergenoegde gille sny skerp deur die doodstil kamp lug. Ek vlug met haar oor die duin na die see. Sy huil dat ek haar moet dra. Ek mag nie te naby aan die see loop nie. Ek moenie so stil wees nie, ek moet met haar praat asseblief, beveel sy kwaai. Terug by die kamp is Lambrecht se geduld minder. Maar waar gee jy ‘n kind pakslae as jy kamp?

Frankie en Neels se kinders gedra hulle soos goeie kampkinders. Hulle bly mooi besadig stil in hul tente tot skuins voor 8. Hulle kom vriendelik en uitgerus uit hul tente. Hulle eet hulle weetbix soet sonder ‘n gegil of gehuil. Maar genadiglik is Neels en Frankie ouers van kinders wat nie altyd sulke super kinders is soos vanoggend nie. Dit help dus dat ons nie te ongemaklik hoef te voel oor ons onsmaaklike oudste vanoggend nie.

Een van die tannies van ons gesellige bure kom bedel vanoggend ‘n bietjie kookwater vir koffie. Dis regtig ‘n gawe Engelse tannie met sulke interessante blou langnaels. Hulle is deel van ‘n “singles club” uit die Kaap wat gereeld so saamkuier en kamp. Dis mans en vrouens. Ek het nie eens geweet sulke clubs bestaan nie! Ons ander bure uit die stad sê nee dankie vir ons vars kookwater en vertrek vroeg dorptoe. Ons vermoed hulle gaan drink hul eerste oggendkoffie in ‘n coffeeshop.

Net voor ons ry maak my liefste vir ons ‘n brêkfissie op die vuur. En skuins na 1 sluit ons, ons een nag kamp af met ‘n draairoomys uit Yzerfontein se videowinkel. Wat ‘n goeie naweek – of soos Frankie tereg sê, dit was so bedrywig, dit voel regtig langer as een nag! Wat het die een nag kamp met kinders my geleer?

1. Mense met kinders moet liefs kamp saam met mense met kinders…

2. Kamp met kinders by die see is intens. Moenie verwagtinge koester dat jy ure op die strand gaan spandeer nie.

3. As jy niks kamptoerusting het nie – kies jou kampvriende versigtig!

4. Kampplekke het nie ‘n plek vir pakslae gee nie. Hê ‘n Plan B in plek.

5. Kamp is ‘n ander wêreld. As jy ‘n pyn is oor skoon en netjies – boek eerder vir jou ‘n huisie.

6. As jy hou van núwe, ánder mense, gaan jy kamp absoluut love.

7. Kampers is flukse mense!

Oppad terug het ek van gisteraand se oorskietbraaibroodjie geëet, al was ek niks honger nie. En Frankie, daai witbroodbraaibroodjie was selfs nog baie lekkerder as gisteraand.

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep