Begrafniskos en Moedersdag


Sondag neem Stan en Marietjie ons Pofadder toe, na ‘n sielsverkwikkende paar dae op die plaas. Ons drie sussies het 60km se geselstyd voor ons moet afskeid neem in Pofadder. Dan moet ek en Marli die pad waaghalsig aandurf met my energieke twee bloedjies.

Ons gesels oor ‘n duisend onderwerpe in hierdie tyd. Onder andere oor hoe en waar ons begrawe wil word. Die dood is lankal nie meer vir ons ‘n heilige onderwerp waaroor ons in ‘n fluistertoon  praat nie. Ons het dit immers al aan ons lywe gevoel. Dis tog ons almal se lot/voorreg op die ou einde. Uit die bloute kondig Marli aan dat ons asseblief nie moet nalaat om Cremoratert op haar begrafnis te bedien nie. Marietjie verklaar dat sy nie begrafniskos verkies nie – eerder ‘n lang tafel met “mashed potatoes” en wors sodat almal gesellig kan saamkuier en eet.

Later op die pad, skuins duskant Bitterfontein, vertel Marli van die stuk wat sy anderdag op Facebook gelees het. Dis geskryf deur iemand wat haar ma verloor het en die stuk se titel was blykbaar: AS JOU MA DOOD IS, IS JY IN JOU MOER IN.

Ek begin lag so toe sy hiervan vertel. My lag is uit empatie, want nie lank gelede nie nog wou ek ‘n boek skryf met die titel -MY MA IS DOOD. Net dit. Ek wou my verskriklike seer op papier skryf. Met pyn gaan mens moeilik poëties om. Seer is soms so seer dat jy regtig nie omgee hoe dit op iemand anders se oor klink nie.

Moedersdag kon ek saam met Marietjie ‘n paar blommetjies op my ma se graf gaan sit. Ek het so aan Petra, Alae en Hanli gedink. Hulle kon ook nie ‘n “Gelukkige Moedersdag-oproep” huistoe maak nie. Ons dra dieselfde stukkie seer.

Vrydag gaan drink ek by oom Louw Nel koffie in Pofadder. Ek vra hom uit oor sy kinderdae in die Boesmanland. Oom Louw is 83 en sy geheue is beslis skerper as myne. Hy praat met die grootste respek van sy ma. Vandag kan hy nie glo sy het twaalf kinders grootgemaak nie. Ek vra hom of hy nog baie van sy ma kan onthou. Dan kry hy trane in sy oë en antwoord, “Natuurlik my kind.”

Want mens vergeet nooit jou ma nie. En jy is nie verewig in jou m%*r in sonder jou ma nie. Genade op genade op genade en tyd, tyd, tyd maak die verskriklike seer later sagter.

  

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep