Oom Stoffies se ongeluk(kies)
Vanoggend, terwyl ek ons boetie se eerste doek vir die dag
omruil, kom staan Lambrecht in die kamerdeur. Hy wou nog vertel het – hy’t
anderdag ‘n oom in die Paarl ontmoet wat my pa-hulle baie goed ken. Oom Duitser
Engelbrecht is ‘n Namibiër wat in Kakamas op skool was.
Ja, hy ken vir André Nel, het oom Duitser gesê, dis mos André
Makkie. Hy’t mos so vreeslike stoute broer gehad, Stofbakkies. Ons ken hom as
oom Stoffies vandag. Almal van hier tot in Moerlandspan ken vir oom Stoffies.
Oom Stoffies is vandag die eienaar van Panarotti’s in Worcester. Sy kinders is
al verloof en getroud.
Maar stories van oom Stoffies uit sy jonger dae loop jy
orals raak. Oom Duitser vertel dat oom Stoffies sy karretjie eendag gerol het.
Na die tyd vertel oom Stoffies toe, toe hy nou daar onderstebo lê, kar op sy
dak, speel Neil Diamond se “What a beautiful noise.” Toe luister hy maar eers
die liedjie klaar voor hy uitklim.
Ek kon die prentjie sien en die liedjie hoor. Ek kon
eenvoudig nie ophou lag nie.
Dis dieselfde oom Stoffies wat siek gespeel het in die
koshuis en toe die glips gehad het met ‘n lepel jellie. As jy siek is in ‘n
koshuis, kry jy jellie. Ongeag watter tipe siek jy is. Om die lang oggend in
die bed om te kry, het oom Stoffies lepels jellie teen die ruit vasgeskiet.
Sommer net vir die pret. Toe glip ‘n lepelvol en spat deur die ruit op die
tweede verdieping. Geen liegstorie kan so ‘n ongeluk regverdig nie.
My pa sê anderdag dat al wanneer oom Stoffies nie kwaad gedoen
het nie, was wanneer hy van die een kwaaddoen plek, na die volgende beweeg het.
Oom Stoffies, as oom vanmiddag in oom se gesellige Panarotti’s
sit en smul aan een van oom se lekker pizzas, wil ek sommer net dankie laat
weet so deur die lug. Oom het my oggend op ‘n baie vrolike noot laat begin!
Comments
Post a Comment