Die lekkerkos waarvan niemand meer praat nie


Dis hoogmode om deesdae gesond te kook – suikervry en lae GI, in seisoen en organies. Erfeniskos is in. Yskasterte is uit. Tradisioneel met ‘n kinkel is in. Aromat en boeliebeef is uit.

Ek sit en lees nou Mariëtte Crafford se rubriek in die nuutste Rooi Rose. Ek verslind dit altyd. Sy werk so mooi met woorde – alliterasie op die perfekte plekke, en die heel mooiste self uitgedinkte woorde. Ek’s ‘n Niël Stemmet aanhanger ook. Hy maak my terugverlang na ouma Susie se Sondag middagete tafel. Dan is daar natuurlik Herman Lensing. Die jongman wat oud en nuut so mooi laat trou.

Hulle kook eerlik en vars en mooi en gesond.

My hartsbegeerte is om ook soos die meesters in my kombuis om te gaan. Dis waarom ek een Saterdagmôre voor die voet kombuis skoongemaak het. Alle pakkies met MSG en die ander sondebokke, is in ‘n Checkerssak geprop. Hulle moes ‘n ander kombuis gaan versondig.

Ek bel Marietjie en vertel haar van my gesonde kombuis. Ek kan aan haar stem oor die foon hoor dat sy besig is om haar oë te rol. Want my Marietjie-sussie is nie een vir fiemies of fieterjasies nie. Aansittery kan sy nie verduur nie.

Ek wil die appelkar omsmyt en skryf oor die lekkergoed waaroor ons nie meer praat nie. Marietjie se kombuis is vol daarvan. Marietjie kook spontaan en gesellig met wat Pofadder se winkels haar bied. En sy kook absoluut uit die boonste rakke. My middelsus is ‘n sprekende voorbeeld van gebalanseerdheid. Sy is ‘n bewys dat soetpatats en gesmelte kaasbroodjies nie vet maak mits jy dit in matigheid verbruik nie… Marietjie berei koningskos op maat van RSG wat net deur die klein radiotjie bo-op haar yskas opvang. Pofadder hou nie organies, quinoa, chia saadjies of bessies aan nie. Dis okay.

Dit druk my op die hart om te skryf oor die sonder- status of sonder- aansien kos in ons huise. Die lekker goed wat ons met pantoffels aan voor Kyknet eet. Of die onthoukos waarvan almal al so half 
vergeet het…

Ek onthou uit my laerskooldae snye brood met dik margarien en aromat wat so goudgeel kombersie oor die margarien lê. My ma se patats was eerder suikersoet, as gerooster in die oond. My gunsteling appeltert was allermins gemaak van vars appels uit die boord. Destyds was vars appels inelkgeval nie ‘n alledaagse ding in Kakamas nie. Wat kom eers naby geblikte appels se appeltert? My ma se mashed potatoes was nie ‘n gesonder opsie van gemashde blomkool nie. Dit was van regte aartappels – met ‘n klont botter en van ons koeie se volroommelk waarop daar altyd so geel roompie gedryf het. Volroom, hoë GI, hemelse mashed potatoes. Hoender is nie net eenvoudig gerooster in die oond nie. Daar was altyd ‘n sous. ‘n Sous wat aanmekaar gehou is deur Bisto of ‘n souspoeier, my mond water sommer net aan die gedagte. Wie ken dan nou nie daai chutney en mayo hoendertjie nie – saam met rys. Daar was altyd rys.

Of tannie Tersia se hemelse broodjies met gemengde boeliebeef, mayonaise en fyn agurkies daarop, effe gerooster in die oond. Soms was daar oorskietrys, dan het ons daai rys met volroom plaasmelk en so bietjie suiker geniet. My pa het die vakansie nog kaiings met bietjie oatspap (dan meng jy die twee) vir ontbyt geniet. Ek het daai al vergeet. Ongekultiveerd en ongesond. Hemels. Wat van ‘n mikrogolf gesmelte kaasbroodjie, of ‘n cremoratert met ‘n tennisbeskuitjiekors. Niks mee fout nie. Hierdie kos verdien ook om oor geskryf te word.

My ma se eerste Wenresepte is onder my erfgoed. Dis gedruk in 1981. Daar het sedertdien baie water in die see geloop…



Ek glo die grootste geheim van kos wat jou binnekant warm en gelukkig laat voel, is kos om ‘n tafel saam met jou mense, afgeskop met ‘n tafelgebed en afgesluit met lag. As jy stop as jou maag sê dit is lekker, maar dit was genoeg, hoef jy ook nie die volgende dag die gesellige samesyn te berou nie!

Marietjie maak kos met aromat en suiker. Sy weet nooit die GI status nie. Ons eet dit om hul hout kombuistafel.  Dis hemels.








Comments

  1. Sowaar so waar! Ek kyk nou die dag 'n paar videos op Youtube van 'n girly wat so vreeslik gesondheidsbewus is. Niks meer gewone meel nie. Dis almond meel en klapper meel. Niks van sommer 'n appel gryp nie. Sulke volksvreemde vrugte en smoothies met spinasie en kelp (wat dit ookal is). Ag dis seker nie sleg nie maar nee wat gee vir my maar die gewone "alles in matigheid" filosofie. Kyk na jouself en rus in die Here se Genade.

    ReplyDelete
  2. Die lekkerste lekker bly mieliepap met botter en dan baie kaiings!!

    Huiskos soos ons dit ken is trooskos, is regte kos. En niks mee fout nie.
    Enigste probleem is dat ek die helfte van daai kos nie kan eet nie want 'gluten' maak my baie siek.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep