Nostalgies oor jou grootwordplek
Byna twee weke in die Boesmanland, ‘n braai in die skerm,
paar oggende se draf op grondpad, baie happe kaiings en glase Noveau Blanc en
die Boesmanland se heilige stilte later, hou ek nabetragting.
Ek het vir die Here baie jare terug gebid vir ‘n boer en kinders
wat lief is vir vlaktes. Want ek’s ‘n stof en vlaktemens. Die Here is nie doof
nie. Lambrecht is nie ‘n boer nie, en ons kindertjies is nie Boesmanlandertjies
nie, maar hulle deel my liefde vir stof en vlaktes. En die Boesmanland.
In Daniël het Oupa André sy eerste seunskind, kleinseun. Ek
kan sien sy gees vier fees. Soggens sit Daniël op Oupa se skoot en deel met
hom sy eerste beker moerkoffie. Ek protesteer eers. Kinders, of peuters, mag nie
koffie drink volgens ons reëls nie. My pa hou hom doof. Hy deel sy
snytjie boerbrood met appelkooskonfyt en kaiings daarop met sy eerste
kleinseun. Hy deel groot. Oupa sal sy alles deel met hierdie seunskind. Hy deel
selfs klein stukkies van sy laaste sult met Daniël. Onse Daniël
skrik nie vir plaaskos nie. Hy eet sy eerste sult asof dit een van die
lekkerste goed is wat sy gulsige mondjie nog geproe het.
Oupa vat hom vir ‘n duisend draaie met die motorfiets. Daniël
se vreugde staan oor sy hele gesiggie. Daniël help vir oupa donkievuur
maak. Daniël
roep “Oupaaaa” as hy sy ogies oopmaak na sy middagslapie. Daniël
stap saam kraal toe en verkyk hom aan oupa se mooi skapies.
Ons Amé-kind stap nooit op die plaas nie. Sy bly op ‘n drafstap.
Te min tyd, te veel wat sy nog wil doen. Ouma Marinda is ‘n kleinkind se droom.
Anmari en Amé
veg behoorlik om haar aandag. Ons giggel so oor die twee niggies. Albei het
immers Nel-bloed. Maar hulle verskil soos dag en nag. Anmari is so baie van
Marietjie, en Amé van my. Ons sien onsself eintlik as ons na hulle kyk.
Soms is hulle beste niggies, en soms waai die hare!
Sondag, net voor ons vertrek, glip ek ongesiens weg. Ek gaan
dwaal by die kraal met die groot doringbome. Ek tel ‘n sekel en stukkende graaf
op my pad op. Ek onthou hoe ons huis-huis in die kraal se kampies gespeel het. Ek
onthou al ons hanslammers. Was dit dan so lank terug?
Gister oppad terug blaai ek deur die plaasfoto’s op my foon.
My trane loop sonder dat ek dit besef. Ek weet eers daar’s trane toe Amé
vra waarom ek dan huil. Ek huil van blywees. Van blywees oor ‘n stukkie
Boesmanland waar ons altyd kan gaan wees. Ek huil oor ek weet iewers tussen
Springbok en Klawer is die denkbeeldige lyn tussen regte wêreld
en droomwêreld.
Want in Pappa en tannie Marinda se huis, en in Stan en Marietjie se huis,
vergeet ek van skedules en programme en tyd. Daar val als weg. Daar jaag niks
mens nie.
Ek’s gek oor my nóú-lewe, maar dis sielsalig om soms weg
te glip na die Boesmanland. Vir sommer net tydlose stilte en koesterende
herinneringe.
Comments
Post a Comment