Mooiweer en pannekoek op Millerton
Die Boesmanland lyk vandag soos ‘n wintersdag
in die Boland, dit ruik na pannekoek en kaneel, dit voel soos die hemel. Sagte druppeltjies sak elke nou-en-dan uit. Ek
dink dis hoe die hemel moet voel; dankbaar, uitbundig, vol verwagting, vredevol
en vars.
Dit het gister al begin. Gisternamiddag was
die Boesmanland so warm dat ons met nat waslappe op ons voorkoppe moes gaan
middagslaap. Ons was besonders moeg na ‘n baie suksesvolle en vrolike
nuwejaarspartytjie saam met ons Boesmanlandfamilie in Pofadder, die vorige aand.
Ons het al met die opstaanslag gisteroggend begin uitsien na ons middagslaap.
Nie eens die nat waslappe kon ons afkoel nie. My Marietjie-sussie het met ‘n
nat waslap op haar voorkop én voete geslaap, en dit wou nie eens help nie! Teen
koffietyd namiddag het die donderweer begin donder. Die plaasniggies was in
verwondering toe die eerste druppels val.
Die donderweer het Anmari (3) egter
vreesbevange gehad. Dit was so erg dat my swaer later daarop aangedring het dat
my sussie net ‘n klomp watte in elke oor druk. Ons het haar selfs ‘n ou
teelepeltjie panadostroop ingejaag vir die senuwee. Die buitjie reën kon die
ergste hitte temper.
Gisteraand het my pa per sms laat weet die
Here kondig ‘n reënjaar aan. Die eerste druppels het op Makkiesplaas geval. Ons
is laataand bedtoe met donderweer en blitse in die lug. My swaer lyk vanoggend
gedaan. Stan het blykbaar tot in die vroeë oggendure op die stoep sit en koffie
drink, want mens sien sulke mooi weer nie dikwels hier op Millerton nie. As dit
hier is moet mens dit ten minste geniet!
Die weer is steeds mooi. Die selfoon lui al
van vroegoggend af soos die bure by mekaar die reënspoor verneem. My sussie het
besluit om nie vanoggend wasgoed te was nie. Sy bak liewer pannekoek. Want
mooiweer en pannekoek is ‘n skaars ding in die Boesmanland.
Ek gaan stap ‘n draai in die kombuis om my
dienste aan te bied. Andréa (1) sit met die blikbord met alle minder
suksesvolle pannekoek daarin – die kaneelsuiker sit al so ‘n rand om haar mond.
Marietjie se pannekoekpan lyk
nuut. Dis nie ‘n vreeslike duursame pan nie. Sy weet
nie hoe lank hy gaan hou nie, beduie sy. Maar aan die anderkant, pannekoek is
nie ‘n ding wat mens gereeld in die Boesmanland bak nie. Pannekoek en reën loop
mos hand-aan-hand.
Ek sluit af – middagete is naby. Dit het nog nie duime gereën nie, en hier
loop nog niks water nie.
Maar daar’s weer hoop. Die
stof is afgewas. Die mismoed en wanhoop ook. Ek het hom nog nie gesien nie,
maar ek weet my pa stap vandag weer regopper.
Ons prys die Here vir die eerste reëns. Ons
vertrou Hom dat hier sommer nog baie pannekoek gebak sal word in die
Boesmanland in 2017.
Comments
Post a Comment