Wellington se vure

Vandag is die hemel vir die eerste keer in n hele week weer helder ligblou, soos ons dit altyd ken. Die berge lyk veilig, majestueus en bolandmooi, soos altyd. Ek woon in Wellington. Ek het nie vure geslaan of kos uitgedeel of enigiets ekstra spesiaal gedoen tydens al die brande nie. Ek is bloot n huismamma van twee klein kindertjies, en as ons, ons voordeur oopmaak kyk ons uit op Wellington se lieflike berge.

Die laaste drie dae was die ergste. Helikopters het heen-en-weer gevlieg. Dit het kompleet gevoel of ons in n oorlogsone woon met alle rook en helikopters. Dalk was dit bietjie soos n oorlogsone.
Oorlog teen die vuur. Oorlog teen mense wat vuur maak omdat hulle harte ongelukkig is, en nie die verreikende gevolge deurdink nie. Oorlog teen wanhoop. Oorlog teen baie dinge.

Eergisteraand was die vlamme n vernietigende monster wat oranjerooi teen ons mooi berge veld gewen het. Die manne was teen hierdie tyd al so moeg. Die wind wou net nie mooi saamspeel nie. Ons het hierdie week wind ervaar wat net nie meer onwelkom kon wees nie. Want n verkeerde wind kan n vuur aandryf en aandryf en aandryf...

Mens hoor ongelooflike stories wanneer daar nood is. Iemand met n ysbesigheid in Wellington kom laai vragte en vragte ys af. Weldoeners se hande en harte is oop. Een man weier om sy plaas te ontruim. Hy sê as als afbrand sterf hy eerder saam. Die Here bewaar sy plaas. Een gesin moet hul huis n paar maal in een week ontruim. Dis so warm naby die huis dat die plastiekpype smelt, maar hul huis brand nie. Dit bly vir almal n onverklaarbare wonderwerk!

Ek het saam met so baie ander mense gebid. Dat die water sal hou. Dat daar nie noodlottige ongelukke sal wees nie. Dat die mans en vroue wat betrokke is se energievlakke sal hou. Dat die wind nie sal opkom nie. Die vuur het die lieflike Boland biddend op haar knieë.

Daar is baie bespiegelinge oor wie die sondebokke is. Wanneer die rook n digte mis oor ons dorp lê raak ons gemoedere ook swaar. Gister ry ek met die kinders van Checkers af huistoe. Iemand wuif dat ek moet stop, hy wil met my praat. Iets daaraan laat my ongemaklik voel en ek waai beleef dat ek ongelukkig nie kan stop nie. Die man wys n middelvinger en sy mond vorm woedend f*ck  y@*. Dis n eerste keer vir my. Ek is regtig lief vir mense en behandel enigiemand met die grootste respek.

Mag rookwolke van onheil in Wellington en in ons land ons nie perspektief laat verloor nie. Ons stap nie die pad alleen nie. Ons bly hier omdat God ons hier nodig het vir n spesifieke taak. Sy hand is oor ons. Hy sal ons nie vergeet nie.


Vandag is ons net dankbaar vir skoon, vars Bolandlug.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep