Die 12de Jaar

 

Twaalf jaar het verbygevlieg. Dit voel soos ‘n leeftyd gelede. Steeds onwerklik.




Op hierdie dag twaalf jaar gelede was die sonsondergang besonders mooi. Dit was meer oranje as rooi. Ons het gekyk hoe dit stadig ondergaan, en dan plotseling net weg is. Ek het daardie aand gedink: Hierdie sonsondergang het my ma misgeloop. En sy sal geen sonsondergang hierna ooit weer sien nie. Ons was oppad Kakamas toe van Bloemfontein af. Ek kan nou nog Ds. Peet se stem oor die telefoon hoor.

Al het twaalf jaar al verloop.

Elke liewe jaar probeer ons sussies hierdie dag net verby kry. ‘n Week gelede besluit ek, ek wil op hierdie dag iets betekenisvol doen. Ek vra Nadia of sy nie kans sien om my te begelei op my verste drafroete ooit nie. Sy is ‘n gesoute hand. Nadia laat haar ook nie twee maal nooi nie. Iewers deur die week besef ek dat die weer nie gaan saamwerk nie.

Gisteraand reën dit katte en honde. Ek boodskap Nadia om te hoor van ons drafplanne. Sy stuur terug – koffie en ‘n piesang voor ons om 05h00 wegspring. Dit behoort die ding te doen. Dan moet ek ook genoeg water en jelly beans saambring. En ‘n hoedjie op my kop. Dit beskerm mens darem so effens teen die reën as dinge te rof raak.

Ek stuur ‘n skietgebedjie op oppad bedtoe. Die Here verstaan hoe graag ek 30km wil draf op die dag dat my ma haar 12de jaar in die hemel vier... Vanoggend staan ek skuins voor 5 op vir my soet koffie en piesang. Die reën is stil. Die oggend is perfek. Die aarde ruik nat en vars.

Ek dink nie ek het al baie sulke mooi, vars, perfekte oggende beleef nie. Ons kry mekaar by Wellington-Oos se kerk. Nadia, Bekker, Ronel, Conrad, Joanne, Lezanne, Carien, Helma en ek. Iewers langs die pad moet Bekker en Ronel draai. Ons res hou egter vrolik en vasberade aan. Ons almal het ‘n doelwit voor oë. Sommige wil ‘n 25km voltooi en die res wil ‘n 30km klaarmaak.

Drafgroepe is altyd interessant. Mens weet nooit werklik te veel van mekaar af nie. So oor die jare word die detail ingekleur. Drawwers praat graag oor wedlope, tekkies, watter sportbra nie skaaf nie, maar steeds bekostigbaar is ens.

As mens egter drie-en-‘n halfuur saamdraf praat jy later wyer as wedlope en tekkies. Ons praat vlugtig oor Covid en die dokter in die groep lyk ietwat onsteld oor mense (soos ek) wat begin rebelleer teen die gemasker draery. Die 28-dae dieet kom ter sprake en iemand in die groep kan getuig hoe effektief dit is. Die res dink aan die drie vrugte wat jy op dag drie moet eet vir aandete en besluit om eerder alternatiewe maermaak metodes te ondersoek. Een het ‘n eilandpartytjie aan en ons almal wonder watter skemerkelkies bedien sal word by die partytjie. By die halfpad merk begin droom ons oor ons ontbyt wat voorlê.

Die lekker weer stem ons vanoggend tot waaghalsigheid. Ons besluit om ‘n onbekende afdraaipaadjie tussen die wingerd deur te waag. Die paadjie kom toe glad nie uit waar ons dink dit moet nie. Ons kom egter perongeluk by die mooiste stuk wingerd uit. Ons “verdwaal paadjie” is toe inderdaad iets baie spesiaal!

Iewers oppad terug kom stop Dale (Carien, een van die drawwers se man) by ons met yskoue Coke. Ons drink dit sommer so langs die pad uit plastiek Lego glasies. Dit was beslis die lekkerste Coke wat ek nog gedrink het! Tien uit tien vir drawwervroue se mans wat soveel omgee.


Ek moet bieg, toe ons skuins voor 9 terug is by die Oos-kerk het my bene soos jelly gevoel en ek was selfs so ‘n klein bietjie naar. Maar my horlosie het gebiep met ‘n NEW RECORD!

Dankie vir drafvriende wat al die pad saam met jou draf en saam met jou opgewonde raak as jy jou doelwit bereik. Dankie vir hartsvriende wat saam met jou deur die lewe “draf” en jou sterk help bly as jou bene begin jelly raak en jy eenvoudig jou fut verloor.

Dankie Pappa dat pappa bietjie minder as 12jaar gelede saam met my  swart klippe langs die grondpad gegooi het vir merkers vir elke 1km. Pappa het saamgestem – sielkundiges is ver en duur as jy op ‘n plaas bly. Pappa het saamgestem – as draf my kop skoonmaak moet ek aanhou tot my kop skoon voel.

Saam met elke pakkie seer kom daar altyd die pakkie genade ook. Altyd.

 

Comments

  1. Dis ongelooflik! My hart is saam met jou. Wens ek kon saam jou die draf sessies doen. Dis wonderlik hoe mens die genade van bo deur als kom. 12 jaar is lank. My moeks vier die jaar 18 jaar bo in die hemel. En ons verlang maar deur God se genade raak ons net sterkter elke dag. ❤️

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep