My Pa se Strandfontein 60ste

 

In Januarie stap ek en my middelste Marietjie-sussie op Strandfontein se strand en droom van die perfekte 60ste partytjie vir my pa. Ons eerste gedagte is ‘n lang gedekte tafel op die stofpad oppad Makkiesplaas toe. Ons sal wit tafeldoeke gebruik met baie kerse. As die son sak sal dit ‘n 60ste raak in die Boesmanland wat niemand sal vergeet nie. Stilte...sterre...en natuurlik ongelooflik baie en lekker kos. Al my pa se gunstelinge. Daar moes ingelegde sousboontjieslaai volgens ouma Ans se resep wees. Die roosterkoek sou bedien word met sagtevet en soet konfyt. Die vleis moes dood gaar gebraai wees, want dis hoe my pa daarvan hou. O ja, en daar moes gemarineerde lieslappies wees om die aand mee af te skop. Nagereg sou wit koek wees. Met min versiersuiker, want my pa glo die lekkerste koek is sonder versiersuiker.

Toe onthou ons van die wind op Makkiesplaas. Dit kan ‘n sprokiesagtige 60ste saam met alle bure en familie laat ontaard in ‘n nagmerrie. Waarheen sal alle gaste gaan vir toilet? Hoe hou ‘n mens die kos warm wat moet warm wees en die kos koud wat moet koud wees.

Die maklikste, lekkerste plan B is Strandfontein, het ons saam besluit. Dis hoe my pa se hele span kinders toe saam reël aan ‘n verrassingspartytjie op Strandfontein.

En toe gebeur Covid 19.

Die tannie waardeur ons die huisies gereël het was regtig so gaaf. Na elke aankondiging van onse president is daar ‘n whatsapp van tannie Letitia af – “Ons skuif jul naweek maar net nog ‘n bietjie aan.”

Dis hoe dit kom dat ons die afgelope naweek eers vier aan my pa se 60ste wat al in Maart was. Wat ‘n besonderse naweek raak dit nie. My pa stuur vooraf ‘n boodskap vir die kleinkinders: Hierdie naweek hoef hulle nie kos te eet nie. Oupa sal sorg dat hulle genoeg see-roomys eet.

Vir drie aande in ‘n ry braai ons. Ons woon in Oupa Arend en die huisie het ‘n lieflike braaiplek aan die agterkant. Alhoewel ons dus nie die see kan sien nie, hoor ons dit. En ons is genadiglik beskut teen die ergste Strandfontein koue. Met die eerste aand se braai kuier die drie swaers te lekker – hulle beplan solank aan hul Juniemaand se jag (Hulle verbeel hulle tog dis só moeilik om met ‘n Nel-suster getroud te wees. Ons dink hulle kan hulself werklik gelukkig ag!). Teen 23h00 die aand roep Marietjie vir Stan met haar kwaaiste stem. As ons nie nou kan eet nie, gaan ons ongelukkig die ete moet misloop. Die manne bring teësinnig die vleis in vir ete.

Ons laat flous ons nie die tweede aand weer so nie. Ons moedig die mans aan om sommer teen vroeg namiddag al vuur te maak. Maar Stan laat hom nie aanjaag nie. Aangesien hy al die langste deel van ons gesin is, is hy die man wat die ritme aangee langs die braaivleisvuur. En Stan Miller is ‘n tydsame man langs ‘n braaivleisvuur.

Ons sluit die naweek af met staanribbes oor die vuur, sowel as snoeke en ‘n paar mossels. Maar teen die einde van so ‘n “vreetsame” naweek is niemand eintlik regtig eens meer honger nie. Die laaste aandete van die naweek lyk soos die grand finale van ‘n Kokkedoor reeks. Die tafel sug onder snoek, rib, mossels, Hané se verruklike brocolli-slaai, Tannie Marinda se liplekker mengelslaai, soet gemmerrige patats en knoffelbrood. Vir nagereg tower tannie Marinda ‘n bak brownies op. Die brownies het my man skoon in vervoering!

Teen bedtoegaan tyd staan ons in ‘n ry om van Stan se Eno’s te drink.

Gister moet ons oppak vir huistoe gaan. Die yskas is vol halwe plastiekbakke en braaibakke. My jongste Marli-sus en haar man ry eerste. Hulle vertrek net met hul tasse en hul oorskiet gin en whisky. Hul kosgoed los hulle net so. Teen paktyd is ek en Marietjie moedeloos oor die vrag kos wat ‘n plek moet kry. Ons gesinne eet eers saam middagete voordat ons klaar pak. Marietjie se plaaskindertjies eet die die laaste mossels met gemak op. Selfs kleine Anmari wat nooit vreeslik opgewonde raak oor kos nie, behalwe DIK botter op witbrood, eet die knoffel mossels uit die skulpe asof sy dit al jare so eet. So tussen happe mossels en vis en rib gaan sit die drie meisiekinders met drie lepels om Marli se houer Coconut joghurt. Hulle eet smaaklik daaraan. Marietjie moedig hulle ook aan om die laaste malvalekkers en springmielies klaar te maak. Ook ons vier grootmense gee ons beste.

Ek groet Marietjie terwyl sy staan en eet aan die laaste happie van Marli se pienk joghurt tert. Sommer so uit die glasbak. Ek kan sien sy is op haar einde. Marietjie is egter die een van ons drie wat nooit kos weggooi nie. Sy eet soggens eerder haar drie kindertjies se oorskiet onbytpap as om hulle sin weg te gooi en vir haar nuwes te maak. Dis eintlik ‘n wonderlike eienskap.

Maar so ‘n eienskap sal my laat opeindig as ‘n potjierol!

“Jy moet regtig nou ophou eet,” waarsku ek haar so met die groetslag. “Julle het ‘n lang stuk grondpad wat voorlê. Niemand wil op ‘n Sondagmiddag duskant Kliprand moet stop met ‘n onklaar gestel omdat jy jou ooreet het nie.” Marietjie rol net haar oë.

Ek moet self die boonste knoop van my denimrompie losmaak vir gemakliker sit toe ons ry. Dis waarskynlik waarom mens se pa net een maal in sy lewe moet 60 raak...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep