Huis is waar jou hart is

Ek weet nou waar huis is, want ek het weer sterre gesien, stof geruik en die soet smaak van Afrikaanspraat op my tong gevoel.

Ek praat gister met my man oor die foon. Hy klink verlig om te hoor dat ek uitsien daarna om hom weer te sien. Ek klim die vliegtuig Engeland toe, na my man toe. Nie na my huis toe nie.

Huis is Suid-Afrka, ondanks misdaad…

Ek en my man besluit sommer gisteraand baie finaal dat Engeland net ‘n pitstop sal wees. Ons glo die Here het ‘n wonderlike plan en rede vir dié pitstop. Dalk is dit goed vir ‘n jonggetroude paartjie om in die ver wêreld te leer aanpas. Dis inelkgeval uitstekend vir kommunikasie. Wanneer ek my vir my man vererg moet ons dit eenvoudig uitpraat. Ons het immers net mekaar!

Maar wanneer ons uiteindelik wil huisopsit en met ‘n gesinnetjie begin, moet dit verkieslik in ons hartland wees. Ek het al vergeet hoe goed dit is om naby jou wortels te wees.

Vir ‘n volle week lank het ek en my pa stoksielalleen op Makkiesplaas gekuier. Soggens is ek wakkergemaak met melkkoffie. Voor ontbyt sou ek eers vlak vat vir lekker bid waar dit net jy en die gesels van die voëltjies is.

My pa het gesorg vir kaiings en vars gekerfde springbokbiltong met elke ontbyt. Elke môre na ontbyt het ons gaan boer. Elke môre het die bakkie se neus in ‘n ander windrigting gekyk. Ek kon weer agter ‘n trop skaap kraal toe stap. Langs die pad kon ek Blousporrie blommetjies en Knoppiestinkryk versamel. Ek kon weer hande was in ‘n yskoue krip en oppad huistoe ‘n stroopsoet lemoen skyfie vir skyfie geniet.

Een koue dag het ons selfs die houtstoof brandgesteek en ek kon my pa bederf met skougehalte boerbrood (O hoor tog die arrogansie!!!). Daardie middag het ek weer kosgemaak soos my ma altyd op die houtstoof gedoen het. Die spyskaart was potgebraaide vleisies met koring, soetpatats en sousbone wat ek ook daardie oggend ingelê het. My pa het behoorlik weggelê aan die ete!

Saans het ons twee voor Binnelanders ‘n broodjie en sop geëet. My pa het die heerlikste boontjiesop gemaak.

Smiddae kon ek op my ma se plekkie in die tv-kamer in die son rus. Ek kon ook alle lees opmaak waarmee ek agter was.

Ek kon selfs die wegsteek album van my ma, onder in my pa se lessenaar, bietjie deurblaai en goed huil. Mens vergeet soms hoeveel verlang-huil daar nog in jou sit.

Ek kon geselsies aanknoop met vreemdes Vrydag in Kakamas, want in Afrikaans kry ek weer my persoonlikheid terug. Ek het al vergeet hoe lekker dit is om enige tyd met enigiemand in Afrikaans te kan gesels.

Sondag moet ek terug na die land van min vleis en son en Afrikaans, en baie onweer en Engels. Genadiglik sal my man op Heathrow wag...

Comments

  1. Hai Sune'tjie
    maggies ek lees lekker ek het nou amper al jou posts gelees maar ek dink ek moet so paartjies bere vir more! Ek geniet jou skryf werk.... ek sal nou 'n gereelde leser wees, dankie!
    Jana du toit

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep