Pofadder se langoortjies

Langoor kleuterklub staan skuinsoor Pep Stores in Pofadder se hoofstraat. Dit mag dalk lyk soos ‘n doodgewone huisie as jy vinnig verby ry, maar dis alles behalwe.

Langoor kleuterklub het vir my Marietjie-sussie van Pofadderdistrik, ‘n droom geword wat bewaarheid is. Sy kan nou boervrou wees én kleuterskooljuffrou. Van Maandag tot Donderdag is Marietjie boervrou. Sy bak mosbeskuitbrood, waag haar hand aan naaldwerkies en sorg dat daar elke middag vir manlief Stan, ‘n bord goeie boerekos op die tafel is. Maar Vrydae doen my sussie waarvoor die Here haar in die wieg gelê het: Sy gaan wees kleuterskooljuffrou vir plaaskindertjies.

Hierdie Vrydag was my voorreg om saam met haar skooltoe te gaan. Ons staan swaar op terwyl die koue wolke kwaai en groot oor die Boesmanland hang. Stan laai die skoolgoedjies terwyl dit nog halfdonker en reënerig buite is. Net na ‘n melkkoffietjie en van Marietjie se selfgebakte karringmelkbeskuit, vat ons die pad Pofadder toe.

Ek gaan laai Marietjie aanvanklik eers by die skool af om self ‘n draaitjie deur Pofadder te ry. Ek het ‘n kort lysie wat ek by oom Annus se winkel moet gaan kry. Dan moet ek ook ‘n sakkie van Willie se lemoene by KLK gaan koop. Oppad terug van KLK af besluit ek om gou by Pep Stores in te glip. Ek kan ‘n paar uitbundige pienk-streep pantoffeltjies eenvoudig nie weerstaan nie.

Ek’s net betyds terug by Langoor Kleuterklub vir eerste pouse. Elkeen sit met sy kosblikkie om die vrolike geel tafel. In byna elkeen se kosblikkie is ‘n stukkie droëwors. Dis mos hoe ‘n plaaskind se kosblikkie wintertyd moet lyk.

Tannie Anna (die ander juffrou by die skool), maak tee en tennisbeskuitjies vir haar en my sussie. Toe die seuntjies se kosblikkies leeg is, wil hulle gaan buite speel. Dis nou ondanks die snerpende koue wat in sulke golwe uit die Kaapse rigting aangewaai kom. Ek hou vir Henrico, Jan-Karel en André deur die venster dop. Ek sien hoe hulle jakkelsjag-jakkelsjag speel. Later klim al drie op die speel trekker om bietjie te ploeg.

My sussie moet hulle op ‘n stadium kwaai-oog binnetoe roep vir hul kuns-uurtjie. Vandag moes hulle vêrkykers, stoombote en karretjies maak. Die drie seuntjies is geensins beïndruk met die stoomboot of motor nie – die vêrkyker het veel meer waarde, besluit al drie. Daarmee kan mens ten minste ‘n jakkels raaksien, herinner Jan-Karel hulle plegtig.

Terwyl hulle plak en verf luister ek hul seuntjie-gesprekke onbeskaamd af. Ek hoor dat die onderwerp op ‘n stadium, vlêrmuise is. “Lat ek nou vir julle vertel,” kry Henrico eers baie ernstig albei sy vriendjies se aandag, “vlêrmuise is vuilgoed.” Die ander tweetjies knik instemmend kop. As jy ‘n vlêrmuis gewaar, moet jy eerder vlug.

Later gaan staan ek in die flou sonnetjie agter Langoor kleuterklub met toe oë toe. Die flou wintersonnetjie op my gesig terwyl vrolike kinderstemmetjies iewers opgewonde gesels en vertel, is byna ‘n heilige oomblik.

Net voor die skooltjie uitkom lees my sussie vir die kinders ‘n storie oor ‘n seuntjie en sy speelgoed. Die Seuntjie het nooit sy speelgoed weggepak nie. Die speelgoed bedink toe ‘n komplot en kruip vir die seuntjie weg. Hierdie storietjie sorg vir ‘n bekommerde frons op een of twee gesiggies. Jan-Karel voel egter genoop om homself te verdedig: “Ek bêre my speelgoed mooi, maar dan gooi ek dit weer uit en dan is ek nie lus om dit weer só mooi weg te pak nie.”

Ek sien hoe die ouers een-een hul kinders kom oplaai. Anja vertel hoe sy klein Henrico Maandag in Kakamas se skool én koshuis moet gaan inskryf. Sy hoop maar hy sal van die “groot” skool hou. Op hierdie stadium boer hy eerder saam met sy pa as om kleuterskoolhuiswerk saam met sy ma te doen.

Ons ry namiddag terug huistoe, Millerton toe, waar Stan vir ons wag met koffie en beskuit. Oppad bid ek heimlik dat die vader my en my man ook sal seën met plaaskinders. Kinders wat eerder met toiletrolletjie vêrkykers jakkels jag, as TV kyk. Kinders wat meer hou van tuisgemaakte marmite-toebroodjies met ‘n droëworsie daarby, as ‘n Woolworths-broodjie met ‘n joghurtjie.

Plaaskindertjies soos Henrico, Jan-Karel en André.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep