Koffie op Piketberg

So gebeur dit dat ek verlede Saterdag vir die eerste keer op Piketberg kom. Ek verloor sommer dadelik my hart op die oulike Bolandse dorpie. Ons stop vinnig by die Spar op die dorp vir melk en “blueberry” muffins  voordat ons deurskiet na Devilliers-hulle se plaas.

Ons tyd op die plaas Saterdagoggend is taamlik beperk. Ons moet net na middagete weer dorptoe vir die rugbyfinaal tussen Nuwerus en Moorreesburg. Devilliers speel vir Moorreesburg.

Wilma vra mooi dat Devilliers ons Bo-die-Berg Piketberg moet vat om my die mooi daar te gaan wys. Hy beduie ook dat sy sommer sy beursie moet saambring.

Die uitsig van bo af is sprokiemooi. Jy sien so wyd as die Heer se genade. Die kyk is so baie dat dit nie kan opraak nie.

Devilliers ry dieper die bergpaadjie op totdat ons ‘n bordjie Bo-die-Berg Piketberg kwekery en teetuin kry. “Ons kan ‘n teetjie gaan drink as julle wil,” kondig Devilliers dan aan.

Ek en Wilma laat ons natuurlik nie twee keer nooi nie. Met die stofpaadjie op na die teetuin, kry jy ‘n bordjie “Hoot 3x vir diens.” Ons maak so voordat ons uit die bakkie klim. Vir ongeveer tien minute staan ons verward rond voordat ons die teetuin se winkeltjie gewaar. Diens is nie in sig nie, en ek en Wilma nooi ons sommer self binne. Die winkeltjie is donkerig in die binnekant. Op houtrakke teen die muur staan bottels met badsout wat in lae “ingelê” is. Oor die bottel se prop is ‘n fraai lappie met ‘n strikkie om. Daar is ook gekleurde skulpie sepies en geborduurde bybelversie boekmerkies.

Ek en Wilma staan en vergaap ons nog toe iemand agter ons praat. “Kan ek help,” vra ‘n skugter skoolseun agter ons. Hy was ongetwyfeld besig om sy ma-hulle se gras te sny voordat hy opgejaag is teetuin toe vir tee bedien. Hy dra ‘n sweetpak met swart “waterboots” wat die ene gras is.

“Jaaa,” giggel Wilma senuagtig. “Kan ons ‘n koffietjie drink?” Hy verseker ons dat hulle koffie én tee bedien. Devilliers vra of hulle sap ook het en die seun bevestig trots dat hulle selfs sap ok bedien.

So gaan kies ons dan ‘n tafeltjie buite onder ‘n tipe skadunet vertrekkie. Teen die een hoek van die “vertrekkie” hang ‘n paar takbokhorings as dekor. Orals staan ook kaktusplantjies in bruin plastiekpotjies rond. In die ander hoek is ‘n babastoeltjie met ‘n hasie op die rug.

Ek en Wilma glip gou toilet toe terwyl ons vir ons koffie wag. Selfs die badkamer is ‘n eie storie. Op die toiletklap pryk ‘n geborduurde poppie, die ene pienk kant en lint. Langs die wasbak lê ‘n rooi plastiekroos om die prentjie te vervolmaak.

Ongeveer ‘n halfuur later daag die seun op met ons koppies koffie en Devilliers se rooi druiwesap. Die koffie word bedien in fyn rooskoppies met ‘n bruin melkbekertjie en ‘n suikerpotjie met koeitjies so al op die rand langs.

Te interessant.

Devilliers wonder later hoe mens nou vir die rekening vra en Wilma stel giggel-giggel voor dat sy dit sal “uitsort”.

Oppad uit ry ons verby ‘n bordjie langs nog ‘n kaktus: “Have a nice day mate.”

Ons sal. Ons het immers ‘n “rooskoffie” op die berg gehad. En dan lê Moorreesburg en Nuwerus se finaal ook nog voor…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep