Herfsoggend verlang
Ek het al leer saamleef met die gedagte. Ek gaan huil nie meer in die badkamer as ek die geur van “Red Door” aan iemand ruik nie. Ek kan al oor my ma praat en lag oor mooi herinneringe. Volgende Vrydag sal dit immers al twee jaar en 11 maande wees dat sy nie meer met ons is nie. Maar vanoggend is die verlange weer van voor af so fel. Dis ‘n sprokiesmooi toemis oggend hier in Engeland. Die eerste herfsblare sweef van die bome af. Die oggend is so perfek. Vir ‘n vlietende oomblik wil ek gou my ma bel om te vertel van die mooi oggend. Ek wil haar ook vertel van my viooltjies wat so vrolik blom. Dis nou die viooltjies wat ek nog by my skoonma gekry het. Ek wil haar ook vertel van my eerste rooi hartjie, selfgemaakte vatlappe. Die randjie om die vatlappe is nie so netjies soos wat hare was nie, maar ek het dit immers klaargemaak. Sy sal so trots wees op my. Ek moet haar vertel van my nuwe aartappelslaairesep waarvan almal so baie hou. Die geheim is waarskynlik die snertsie heelkorre