Ons kiertsregop huisie
Fotograaf: Bernie Niehaus
Ons gaan kyk Maandag na die allerfraaiste woonstelletjie in Wharf street. Die huisie is absoluut bekoorlik met sy brandweerrooi voordeur en outydse stoof. Dis piepklein, maar in my geestesoog sien ek klaar hoe ek dit sal omskep in iets baie gesellig.
Ek en my man bid al weke lank vir iets baie spesifieks.
Ons nuwe huisie moet ‘n rooi deur hê, want ek wil so graag net een maal in my lewe in ‘n huisie met ‘n rooi deur woon. Daar moet iewers in die huisie spasie wees vir ‘n tafeltjie met stoeltjies sodat ons mense kan ontvang. Ek en Lezanne moet kan naaldwerk gesels om die tafel. Ek en skoonma Elize moet kan resepte uitdeel om daardie tafel en ek en my man moet kan planne maak en “budgets” laat klop om daardie selfde tafel. In die sitkamer moet daar spasie wees vir ‘n groot, wit “sleeper couch”, want as Wilma en Lyndi en Georgie en Vincent en Nico en Marne en tannie Ters en Corieta kom kuier, moet daar vir hulle ‘n bed wees.
Die huisie moet genoeg vensters hê wat tonne lig deurlaat en lekker ver uitkyk. Ek haat donker en toe. Dit sal lekker wees as die badkamer ‘n bad het waarin ons saam saans ‘n “bubblebath” kan neem en lekker gesels. Ons sal ook nie kla oor ‘n ruim kombuisie nie. Daar moet immers spasie wees sodat ons kan beskuit en hertzoggies bak. Ek wil ook nog my hand waag aan koeksisters en my ma se vetkoekresep. Verkieslik moet daar ook nog genoeg hangplek teen die mure wees. Ek sal graag baie foto’s van beide ons se families teen die mure wil hang.
Die heel belangrikste is waarskynlik ‘n klein ruimte agter die huis waar ons kan braai. Ek het sommer die “landlord” uit die staanspoor laat verstaan dat ons Suid-Afrikaners is en dat ons braaivleis nodig het om te funksioneer!
Die huisie in Wharf Street is klein, baie klein. Ons sal ‘n piepklein tafeltjie ingepas kry. In die sitkamer sal ons ‘n kleinerige “couch” ingepas kry…en dis al. Die slaapkamertjie het nie hangplek vir klere nie, maar ek en manlief besluit dat ons ‘n plan sal maak. Van my baie foto’s teen die mure sale k liefs maar eers moet vergeet. Ondanks dit, bevestig ons tog sommer dadelik dat ons ernstig in die huisie belangstel.
Die oproep kom sowat ‘n uur later. Craig, die Engelsman wat tans daarin woon, het besluit dat hy nie meer wil uittrek nie. My man is woedend en ek is huilerig. Hoekom het die Here ons nou verniet so opgewonde gemaak?
Vier dae later gaan kyk ons weer huis in “Leonard street”. Ek staan verstom. Die huisie maak ‘n tiek in elke boksie van my droomhuis. Dis so ‘n tipiese kiertsregop Engelse huise met net een vertrek per verdieping. Die vensters is groot met breë vensterbanke. Ek toets selfs vinnig, toe niemand kyk nie, of mens in die vensterbank kan sit en lees. Jy kan.
Sally groet ons vriendelik voor ons heeltemal in vervoering ons nuwe “Leonard street” huurhuisie se deur agter ons toetrek.
Die Here wou nie die eerste huisie vir ons gee nie, want Hy het reeds iets baie beters ingedagte gehad.
Ons trek middel Oktober in ons nuwe tuiste in. Ek werk reeds spyskaart vir die eerste Saterdag wat ons mense kan ontvang…
Comments
Post a Comment