Herfsoggend verlang



Ek het al leer saamleef met die gedagte. Ek gaan huil nie meer in die badkamer as ek die geur van “Red Door” aan iemand ruik nie. Ek kan al oor my ma praat en lag oor mooi herinneringe.

Volgende Vrydag sal dit immers al twee jaar en 11 maande wees dat sy nie meer met ons is nie.

Maar vanoggend is die verlange weer van voor af so fel. Dis ‘n sprokiesmooi toemis oggend hier in Engeland. Die eerste herfsblare sweef van die bome af. Die oggend is so perfek. Vir ‘n vlietende oomblik wil ek gou my ma bel om te vertel van die mooi oggend.

Ek wil haar ook vertel van my viooltjies wat so vrolik blom. Dis nou die viooltjies wat ek nog by my skoonma gekry het. Ek wil haar ook vertel van my eerste rooi hartjie, selfgemaakte vatlappe. Die randjie om die vatlappe is nie so netjies soos wat hare was nie, maar ek het dit immers klaargemaak. Sy sal so trots wees op my.

Ek moet haar vertel van my nuwe aartappelslaairesep waarvan almal so baie hou. Die geheim is waarskynlik die snertsie heelkorrelmostert wat ek ingooi.


Bo en behalwe die vertel het ek al so baie vragies…daar het immers al so baie tyd verloop sedert ons laaste gesprek op 6 November 2008. Ek wil haar vra hoe ek ‘n suksesvolle potbrood kan maak. Anneen-hulle kom kuier Sondag uit Londen en ek wil potbrood by die hoenderpot maak. Ek wil haar vra of dit verkeerd is as jy jou man soms met halfgestrykte hemde laat werk toe gaan omdat jy stryk regtig haat. Ek wil haar vra oor babatjies. Hoe kry mens hulle groot? Wanneer is jy gereed daarvoor?

Maar ek weet hierdie vragies sal nie deur Mamma geantwoord word nie.

Ek gaan grawe haar fototjie’s uit my bybel, maak ‘n koppie koffie en huil lekker. Die persoon wat sê, “Huil help tog nie,” was nog nooit hartseer genoeg nie. Vandag sal ek huil oor my ma. Vanaand sal ek my man vra of ons ‘n huilfliek kan kyk – sodat ek myself kan leeghuil.

En môreoggend sal ek opstaan en die wêreld weer met ‘n glimlag in die oë kyk. My ma het immers graag gesê: “Nee kyk Suné, moet net nie ‘n pateet wees nie.”

Ek glo sy sal my hierdie een dag van pateties wees vergeef.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep