Ons bokke kook
Ek wou van altyd af so graag rugbyreëls verstaan. My pa was ongelukkig nooit veel van hulp nie. Of hy sou ongeduldig sê: “Nee man, pa kyk nou rugby, pa kan nie nou verduidelik nie,” of hy sou my sommer net eenvoudig ignoreer.
Met diè verstaan ek tot vandag toe nog niks van rugby nie. My hoogtepunt is wanneer die onderskeie lande hul volkslied sing en ek kan bepaal wie die aantreklikste speler van die dag is!
Dinge is egter besig om te verander op die front van my rugbykennis. My man is meer geduldig en het ‘n groot begeerte dat ek moet kan saampraat oor wat op die veld gebeur.
So sit ons tweetjies toe Sondagoggend 09:30 vasgenael voor die kassie, beide in Springbokrugbytruie. My man het twee en het daarom besluit dat ek maar een mag leen vir die wêreldbeker. Ja, ons was nie kerk toe nie. My man voel die Here is ‘n regverdige man, Hy sal heeltemal begrip hê vir die feit dat ons kerk verruil vir die Bokke se eerste “game”.
Nou ja, die tyd van die “game” maak dit moeilik om te besluit vir “snacks” voor die rugby. Dis nog te vroeg vir bier en biltong. Dis waarom ek toe vir my man Coco pops (sy gunsteling uit sy kinderdae) en ‘n pienkmelkie gekoop het om die oggend mee af te skop. Vir daarna was daar “toasted” kaasbroodjies en koffie. Na halftyd kon hy begin knibbel aan chippies en doopsous.
Die heeltyd het ek styf onder sy vlerk gesit in my groen trui…waar ek volgens hom vir die res van die wêreldbeker met elke Bok-wedstryd hoort. (Ek het my bes probeer om die manlike groot groen trui ‘n vroulike “touch” te gee met diamante oorbelletjies en leersandale.)
Ons het Sondag by die “basics” begin. Wat en waar speel elke nommer op die veld. Hy het ook mooi verduidelik wanneer hy op die “ref” skree oor ‘n swak beslissing. Ek kan nou al saam skree en weet hoekom.
Saterdagoggend is dit weer sulke tyd. Die wêreld sal stilstaan in ons huisie. Ons sal op ons wit banke sit in ons groen truie met ons brêkfis op ons skote.
Ons sal gereed wees om te sien hoe ons bokke klaarspeel met Fuji …
Comments
Post a Comment