Ons manne maak boerewors

Saterdagmiddag is dit operasie boerewors maak in Bernie en Lezanne se huis. Ek en Lezanne besluit sommer uit die staanspoor dat ons, ons heeltemal gaan distansieer van diè operasie. Ons spring dus in Lezanne se motortjie en vat die pad materiaalwinkels toe vir lappiesgoed.
 Sowat twee ure later sms ek my man om te hoor of hulle al begin het met die wors. Die sms piep terug: “Ons warm nog op.”
 Terug by die huis tref ons ‘n worsmasjien, vyf vrolike mans, baie vleis en ‘n ordentlike voorraad bier in die kombuis aan. Worsmaak is nie vir sissies nie, verseker hulle ons. Marcel se internet-derms is ook te dun. Hulle gaan môre nog nie klaar gestop wees nie…


 Intussen help Carlberg mooi om die gemoedere gemotiveerd te hou.
 Die worsmakery was nog nie geweldig lank aan die gang nie, of ek hoor Bernie se stem (Hy is aan stuur van die worsmakery gewees):”Manne, sal ons dan nie ‘n vuurtjie aansteek om ‘n stukkie van die wors te proe nie.”

 Die worsmakers, of worsbroers, soos Marcel later na die vyfmanskap begin verwys het, is ook nie links nie. My man word dadelik aangesê om die vuurtjie aan te steek. Hy is natuurlik te bly om homself vir ‘n oomblik te kan verskoon uit die kombuis. Ek kan teen hierdie tyd op Altus en Marcel se gesigte sien dat worsmaak na so twee ure se hard werk, glad nie meer soveel pret is nie. Bernie begin raak ook nou klaerig. Die gedreun van die worsstoppertjie laat sy kop pyn. Collin werk ook glad nie meer so entoesiasties nie. Dit wil amper lyk of sy grootste taak nou geraak het om nóg ‘n blikkie Carlberg klaar te maak.
 Etlike minute later staan die manne om die vuur. Elkeen staan met ‘n biertjie in die een hand en ‘n stukkie varsgemaakte boerewors in die ander. Hulle lyk gelukkig. Nèè sielsgelukkig.
 Na die bier-en-wors pouse voel hulle beter. Altus is weer vol grappies en Marcel het sy glimlag terug. Bernie se kopseer lyk ook beter. Hulle stop die laaste paar kilogramme vleis sommer vinnig klaar.
 En dan volg die hoogtepunt van hul dag. Ek hou hulle vanuit die kombuisvenster dop. Die rooster lê gepak met steak en wors en oorskiet varkspek. Die manne lag heeltyd. By tye raak ek benoud dat my man aan ‘n asemnood gaan sterf – van lag. Hulle raak eers stil as die die eerste steak en wors van die vuur afgehaal word.
 Hulle eet op ‘n manier waarop jy kan sien: Hierdie manne geniet elke oomblik van elke happie wors en steak. Hulle is bitter trots op hulle selfgemaakte boerewors. (Onthou, in Engeland kry ‘n mens mos nie boerewors te koop nie. Dit is dus ‘n boereworslus wat die vyfmanskap gedryf het tot worsmaak!)

 Na ete lyk die mans moeg. Hulle lyk baie moeg. Hulle verslind ‘n paar “brownies” opppad na die voordeur, wat ek en Lezanne nog mooi vir hulle wou uitneem saam met koffie.
 Ek dink hulle was selfs te moeg om nog eers ‘n koffietjie te drink. Hoe sê die manne immers: “Worsmaak is hárde werk”…

Comments

  1. Ek het lekker gelag toe ek die lees. Ek en my man woon nou al 'n jaar en 'n half in Suid Korea en hier is ook niks boerewors nie. Net die woord 'boerewors' is genoeg om my man tot trane te bring :)

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep