Hoe lyk jou blomtuin?


Sommer so met die afklimslag gister wink my skoonpa my om gou ‘n draaitjie deur hul tuin te kom stap. My Natasha-roos waarna my skoonouers nou meer as ‘n maand moes kyk, wyl ek in Suid-Afrika gekuier het, lyk blosend gesond en gelukkig. Sy is oortrek met knoppies wat die verwagting skep van sommer baie pienk rosies.

Net agter die roosboompie groei die tamaties ook welig. Die dieprooi rose en sagtepienk pronkertjies lyk self dolgelukkig. My skoonpa-hulle het plantjies van elkeen van hul kinders in hul tuin. Van Heerden se wingerdstok gaan mooi druiwe dra, Soretha se blommetjies blom vrolik in hul akkertjie. Ek en Lambrecht, hul jongste, dra nog net plante weg! Die dat ek op die ingewing van die oomblik besluit om my skoonpa te vra om een van Natasha se wille lote af te breek vir plant in hul tuin. My skoonpa Danie is immers geseën met groen vingers en hy sal ongetwyfeld vir Natasha aan die groei kry daar in hul lushof.

Saam met die koffie en sjokoladekoek later, bring ma Elize ‘n bakkie viooltjies. Het ons viooltjies in ons tuin, wil sy versigtig weet. Ek moet bieg dat ons nie veel het nie. En dat ons worstel om dit wat ons het, aan die lewe te hou. Dan wil sy die viooltjies vir ons gee, kondig sy aan. Elke tuin moet immers viooltjies hê.

 Mense se tuine verklap vreeslik baie van hulle siel, glo ek. My Marietjie-sussie van Pofadder se tuin is ongelooflik kreatief. Met moeilike grond en slegte water het sy die beste van ‘n moeilike saak gemaak. Kaktusplantjies is in enigiets wat hol is geplant – van ou geroeste blikkastrolle tot ‘n weermagstewel wat sy iewers op ‘n ashoop ontdek het. Marietjie se kreatiwiteit en geesdrif vir die lewe staan uitgespel oor haar tuintjie. Haar skoonpa, oom Stanley van Pofadder, het anderdag opgemerk dat die tuin mens so “swaarkry se gedagte” gee met al die geroeste ou goed. Marietjie het dit eenvoudig afgelag.

 Lezanne en Bernie se Engeland tuin is die ene Suid-Afrika. In hul agterplaas groei die boerpampoenranke en vyeboom uitbundig. Die rooi malvatjie in die voortuin herinner my aan die malvatjies op ons voorstoep in die Boesmanland. Selfs die pienk petuniatjie in die bakkie op die fietssaal lyk soos lente in Suid-Afrika.

Dis die maand van bloeisels en wakkerraak en nuutbegin…wat gaan in jou blomtuin aan?




Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep