Rietjies se plaasverjaarsdag

Gister was my Pofadder Marietjie-sussie se 25ste verjaarsdag. Ek het haar al vroegoggend gebel. Ek wou eerste wees met my seënwense. Sy sms bietjie later, sy het laat ingelê. Dis mos haar verjaarsdag. Is ek nou laf om so vroeg te bel?

                                                     Marietjie op haar troudag laasjaar
 Ek besluit om laataand eers weer te bel. Haar laaste oproep vir die dag.

 Skuins na 22:00 kry ek haar op die telefoon. Ek sing eers vir haar voordat ons begin gesels. My hart was heeldag broos oor hierdie krulkop altyd-vol-vreugde middelsussie van my. Verjaarsdae is mos belangrik en hare het hierdie jaar sommer net so stil-stil gekom en gegaan.

 “My dag was heerlik,” kom haar stem vrolik duisende kilometers oor die water. “Stan het teetyd ingekom vir koek en tee. En toe geniet ons tweetjies dit te heerlik op die stoep. Ons het sommer vir Piet en Lena ook koek en tert gestuur. Hulle was vreeslik bly ek verjaar. Toe het ek bietjie op die ashoop gaan rondloop vir blikke en goed wat ek kan mooimaak. Middagete was ‘hotdogs.’ Stan het nie omgegee nie. Ek verjaar mos.”

 Ek luister na haar. Haar dag was heerlik, stil, rustig. Op haar eie werf saam met haar man, hul sonstoep en baie Jesusvreugde. Hulle het die aand by Sarien-hulle op die buurplaas gaan kuier. Dit was blykbaar baie, baie lekker. Dit was hul “uiteet” vir die aand!

 Ek dink onwillekeurig terug aan my verjaarsdag laasjaar op Millerton, saam met Marietjie. Ek onthou hoe graag ons wou piekniek, maar die wind was ongurig. Ons moes noodgedwonge ten einde piekniek hou voor in die bakkie – tee in pienk en groen plastiekbekertjies en wortelkoek met Wilma se mooi geskenk servette en koekvurkies. Ons het met die bakkie in die middel van nêrens gestop en lank gekoek en tee. Ons het baie gepraat, sommer oor alle goed wat ons so graag met my ma sou wou deel. Genadiglik het ons nou mekaar.

 Eenvoud is kosbaar.

 Ek gaan kry elke keer eenvoud op Millerton. Stilte en vlaktes en vrede. ‘n Alleen-verjaarsdag op ‘n sonstoep in die Boesmanland, met “hotdogs” vir middagete kan ook “magical” wees.

 Ek lees anderdag van ‘n boek genaamd: “Die rykdom van eenvoud.” As ek met bene uitgestrek op Marietjie en Stan se stoep sit, met hul Tommie hond wat kom aandag soek by my stoel…verstaan ek dit vir die eerste keer régtig.

 Die rykdom van eenvoud…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep