My laaste dag

Ek maak vandag ‘n hoofstuk klaar. Vanoggend was die laaste keer dat ek my swart langbroek en wit hempie aangetrek het. Oor ‘n uur sal ek vir die laaste keer ‘n bruin voorskoot om my middel bind vir koffie bedien in Frothy’s.

 Voel ek uitbundig en verheug oor ek my kortstondige “waitress”-loopbaan totsiens wuif?

 Hoegenaamd nie. My hart voel vanoggend broos. Frothy’s het meer as net ‘n koffieplek vir my geraak. Ek het liefgeraak vir Sue, die kok in die kombuis. Abbie en Naomi wat saam met my bedien, het goeie vriende geraak. Die reuk van koffie en die klank van die koffiemasjien, met “Rutland Radio” wat op die agtergrond speel, het my veilige werksomgewing geword.

 Ek het geleer dat mens jou “customers” in ‘n koffieplek onthou aan die drankies wat hulle drink. Daar’s die “full fat” Café Latte dames wat langsaan werk. Daar’s die blondekop wat soggens op hoë hake ingetrippel kom vir haar “green tea”. Dan is daar Margaret en Sue en Joy en Allen en Polly en Steven en Allister. Hulle kom elke dag in…vir presies dieselfde koffies of tees. Hulle raak vies as “hulle” plek beset is in die koffieplek.

 My skoonpa stuur gisteraand ‘n baie mooi epos sommer net om my sterkte toe te wens met my laaste dag. Daarin sê hy so mooi dat dit nie gaan oor wat ek gedoen het nie, maar die manier waarop ek dit gedoen het.

 En waar ek vanoggend vir die laaste keer gaan koffies en lattes en cappacinos bedien, kan ek met alle eerlikheid sê: Ek het elke dag my heel beste gegee. Ek het dit as edel taak gesien om elke “customer” se koffie-ervaring ‘n ongelooflike een te maak.

 Die Here het hierdie hoofstuk gebruik om my te leer van nederigheid en dankbaarheid. Die Here het my geleer dat my bruin voorskoot my nie definieër nie. Ek’s eerstens ‘n kind van Hom, en dan volg die res.  As jou beroep die bepaler is van wie jy is, is dit dalk tyd om bietjie te gaan rustig word en net weer jouself te ontdek.

Skuins na half 4 sal ek my voorskoot oorhandig, ‘n skyfie “take away” koek koop om by die huis te gaan geniet saam met koffie en huiswaarts keer. Dan sluit ek af. Ek sal nie terugkyk nie. Terugkyk kan jou immers soutpilaar laat raak. Ek sal ‘n knoop in my oor maak om te onthou wat ek geleer het.  Namiddag sal ek begin uitsien na die volgende avontuur wat die Here reeds klaar beplan het…
Ons kan elke middag enigiets gratis vir middagete by Frothy's bestel wanneer ons middagete het. My gunsteling is hierdie Haloumi-kaas en "Lincolnshire sausage" slaai met "pickles" (Dis amper soos 'n soort chutney).

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep