Skotland is Boesmanlandmooi


Ek sê dit nie maklik nie. Niks kom ooit naby die Boesmanland se mooi nie. Dis ‘n anderster mooi. Dis ‘n mooi wat wil verstaan word. Skotland is Boesmanlandmooi.  Dis die eerste keer in my lewe dat ek iets sien wat Boesmanlandse betowering inhou. 


 Etlike myle uit Endinburgh sms ek my pa: “Pappa, hier’s ‘n plek wat vat-vat aan Boesmanlandmooi.”

 Skotland is heuwels en heuwels groen, so ver as jou oog kan sien. Lappies sneeu lê plek-plek. Orals wei skape rustig in die veld. Dalk is dit juis die skape wat my so tuis laat voel het. Plaasopstalle met eenvoudige huise is volop. Ry jy daar verby, ruik jy die koeimis van die beeskraal net langs die huis. Diè reuk is gemeng met die kaggelrokie wat by die huis se skoorsteen uitsweef. As ek my oë toemaak kon ek Makkiesplaas op ‘n wintersoggend ruik – as my ma se houtstoof brand vir koekies bak en sop kook.

En dan is daar die oorbekende wasgoeddraad wat op elke werf vol wasgoed is.

 Ek was niks lus vir gesels vanaf Edinburgh na Tomintoul, die hoogste “village” in Skotland nie. Ek wou net heelpad bid. Regtig. Ek wou heelpad “Dankie Liewe Jesus, baie dankie” bid. Mens voel vreeslik bederf in Skotland se heuwels. Bederf deur die Heer se grootheid en genade.



Ons het drie wonderlike nagte in Tomintoul oorgebly. Al drie nagte in Dianne en Steven, twee pragtige mense uit Suid-Afrika, se gastehuis. Hulle het hul gastehuis en harte vir ons oopgegooi en dit ‘n ongelooflike verblyf in Argyle Guest House gemaak.  Soggens na ‘n heerlike “Full English Breakfast” uit Steven se hand, en sy nimlike tuisgebakte brood, het ons verken en whisky gedrink.

                                           http://www.argyletomintoul.co.uk/ 

Absoluut hemels.

 Skotland se mense is warm, eenvoudige mense. Hulle noem ‘n ding by die naam. Daar’s niks voorgee of aansit nie. En daar tussen die Skotte het ek besluit dat ek wil teruggaan na eenvoud. Niks meer gekompliseerd vir my nie dankie. Ek dink my Marietjie-sussie sou baie maklik inpas by die Skotte.

Dit was ‘n bitter moeilike besluit, maar ten einde het ons besluit om net twee distellerye uit die hordes te besoek. Ek weet my man sou nie omgee om elke dag heeldag lank whisky te proe nie, maar ek gee om. Ek wou darem so bitter graag ‘n stukkie Skotland te voet ook verken. Ons het dus net die twee bestes besoek: Glenfiddich en Glenlivet. En daar’s iets aan whisky wat ek nou verstaan…’n single malt, suiwer whisky met net so snertsie water daarby. Dis ‘n ervaring wat jy net kan begryp as jy self dáár was.

                                                          Glenlivet
                      
Ons het toe ten einde darem stapkans ook gekry. Ons moes egter noodgedwonge met sambrele deur modderpoele worstel op ‘n wandelpaadjie terwyl dit sous. My geduldige man het op sy tande gekners en gemaak asof stap in die reën een van sy gunsteling aktiwiteite is. En ons twee het lanklaas so lekker gesels soos in ons moodertog om Toumintoul.



Saans, as die son begin water trek het ons tweetjies koers gekies na Tomintoul se “local pub” vir ‘n “pint” en die dag se koerant. En sommer om die “locals” te beloer as hulle na ‘n dag se harde werk op die plaas, of ‘n whisky distillery, kom ontspan met ‘n bier.

Ons is terug uit Skotland, maar die ervaring neem ek verewig saam. Ek is ook nou ‘n baie lojale whisky-drinker en ek probeer elke dag om dankbaar te wees vir waarmee ek nóú geseën is.

 En ek werk daaraan om die lewe “simple” te hou…soos Marietjie en die Skotte.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep